Single is só sexy!

0
170
enkellopend.jpg

Sommige van ons is nie bedoel om te in te pas nie. Jy is dalk een van daardie vroue wat die wêreld op sy kop moet draai en skud totdat jy jou eie plek gemáák het.

Min mense sukkel seker meer om iewers te hoort as enkellopende vroue. Jy is net nie meer lus om elke naweek saam met ʼn jolige lot vriende uit te gaan nie. Maar die laaste ding waarvoor jy kans sien is ʼn koek-en-tee saam met die susters of ʼn tupperware-partytjie. Wat moet jy in elk geval met tupperware doen? Die helfte van jou een bord kos in bêre?!

Dis net so moeilik om ʼn kuier tydjie gereël te kry saam met jou vriendinne wat kinders het. Tussen sport, skool en play dates is daar amper nooit tyd nie. As jy self ʼn enkel ma is – raak dit nóg meer gekompliseerd. Hoewel, dan kan jy darem so al om die kinderaktiwiteite met ander mense kontak maak, al is dit nie noodwendig jóú tipe mense nie …

Vergeet ook enige oulike double date saam met jou beste vriendin en haar man – want jy het nie ʼn double nie. Die kerk waaraan jy behoort, weet ook nie regtig wat om met jou te maak nie. Die jeug- en studentegroepe is eintlik al plek waar enkelinge inpas. Dis nie asof jy ʼn ondersteuninggroepie nodig het nie. Maar wat van iemand wat jou leer hoe om ʼn wiel om te ruil of kredietkaartskuld af te betaal … in plaas daarvan om jou te leer hoe om die perfekte man raak te loop, of om die perfekte vrou te wees – while you are waiting. Regtig?!

Jou plek in die familie is ook nie aldag so gerieflik nie. In plaas van ʼn oulike pienkbekkie moet jou ma tevrede wees met jou eiesinnige, afsydige kat. En die familievakansie saam met jou suster en haar gesin laat jou soos ʼn vyfde wiel aan die wa voel. Dis amper asof jou waarde so effens minder is – want wat het jy nou om te bied? So op jou eie en alleen?

[pagebreak]

Wel … BAIE! Maar dit gaan jy en die res van die wêreld eers besef die oomblik as jy ophou probeer inpas. Want gedurende hierdie seisoen van jou lewe, kan jy soveel doen … soos om te leer hoe ʼn wiel omgeruil word! Of om skuld af te betaal. Of om bloot die opwindende, vry mens te wees wat jy nou bedoel is om te wees.

In plaas daarvan om te wroeg oor jou alleenheid, vier dit! Niemand sê ooit vir jou wat jy moet aantrek of hoe laat jy by die huis moet wees nie. Jy kan eet net wat jy wil en die televisie se afstandbeer is joune! Daardie vakansie waaroor almal droom – jy kan gaan. Sonder om by een pretpark of golfbaan te stop. Jy kan rustig op die strand lê en lees, by elke stalletjie gaan stil staan en die fliek kyk waarvan jy hou. Selfs as jy kinders het, kan jy hulle subtiel ly om na jou pype te dans!

Wanneer jy alleen is, leer ken jy jouself soos wat jy gemaak is. Perfek en interessant. Nie baie mense kry hierdie kans nie. Gebruik dit om die beste persoon te word wat jy kan. Dit is nóú lekker en gaan later in jou lewe baie kosbaar wees. Want net as jy jouself goed genoeg ken, sal jy weet waar jy kan aanpas, en waar jy vasstaan.

Daar is ʼn besonderse skoonheid aan die lewensfase waarin jy nou is. En die oomblik wanneer jy dit besef, sal jy soveel geriefliker en minder eensaam wees. Jy sal besef dat jy nie ʼn baba of ʼn man of tupperware nodig het om gelukkig te wees nie. Jy het vryheid en onafhanklikheid – ʼn silwerskoon bladsy waarop jy jou wonderlike lewensverhaal kan begin skryf. Dalk is die tyd wanneer jy nie inpas nie, glad nie so ʼn slegte ding nie. Dit leer jou moontlik dat die soeke na “behoort” nie regtig veronderstel is om jou te leer hoe om te “behoort” nie – maar hoe om ʼn groter, beter, brawe lewe te hê.

En die beste ding wat jy nou kan doen, is om nie jou ore vir almal uit te leen nie. Onthou, elke mense het hulle eie struggle en niemand weet ooit regtig wat goed is vir jóú nie. Vergeet van ander mense se drome vir jou – jy leef jou eie lewe. Vertrou dit.