Sien

sien

Om te kan sien is ‘n ongelooflike voorreg. Ek het ‘n paar jaar gelede ‘n blinde man by ‘n kursus ontmoet en hom beter leer ken omdat ons weke lank saam die kursus bygewoon het.

Nie net het (kom ons noem hom) Ockert my bewus gemaak van die frustrasies waarmee gestremdes daagliks te doen kry nie, ek het ook besef hoe mense verkeerd dink oor gesig-gestremdheid. My oë het letterlik oopgegaan!

Ek het nog altyd ‘n vermoede gehad dat blinde mense se ander sintuie beter ontwikkel is. En ek glo dit nou nog meer. Ockert kan aanvoel wie naby hom sit – amper asof hy weet hoe mense se asemhaling verskil. Wanneer ons met ons notas gesit het, was sy braille-aantekeninge, met liefde deur sy vrou voorberei, in dik stapels voor hom. Om sy vingers so vinnig te sien gly oor wat vir ons net na kolletjies lyk, was vir my ‘n wonderwerk.

Ek het opnuut dankbaar geword dat ek kan sien. As brildraer het ek uitstekende visie – waarvoor ek ook baie dankbaar is. (Een van my eie teorieë is dat mense wat nie bril dra nie, eintlik nie weet wat hulle mis nie. Hulle dink hulle sien goed, net omdat hulle nog nooit vir een van ons gevra het hoe 100%-visie lyk nie…)

Dis ook snaaks dat daar geen stigma kleef aan bril-dra nie. Inteendeel, ek weet van mense wat dit as ‘n mode-item beskou en ‘n bril in elke kleur het! Anders as met gehoorapparate, wat al hoe kleiner word om dit weg te steek – en waarteen mense groot weerstand het.

Ek is daarom dankbaar vir my oë, gebril en al.  En ek kan nie anders as om in my dankie-sê vir dié sintuig ook vir God te vra om my geestesoë te verhelder. Om my te help om deur sy oë na mense en die wêreld te kyk. Totdat ek elke klein wonderwerk rondom my kan raaksien, sommer hier en nou.

Vorige artikelSurprise
Volgende artikelBly in my
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.