Sintuie

Ek het onlangs op ’n plaas in die berge gaan stap om my kop ’n bietjie oop te kry.

Ek ken die roete na die bopunt van die waterval goed en ek wonder elke keer of daar water gaan wees. Die plaasmense se honde het uitbundig vooruit gedraf.

Toe ek by die uitkykpunt kom, was daar geen sigbare stroom nie – maar die gedruis van die water was duidelik hoorbaar. Skielik het dit my laat dink oor ons sintuie, so ‘n wonderlike geskenk van God. Ek het besef dat hulle saamwerk en dat jy soms net een van die vyf nodig het. Al kon ek nie die water sien nie, want die eerste reëns is nog ver weg, het ek geweet daar’s water want ek kon dit hoor.

Ek was skielik dankbaar vir my sintuie – al vyf, wat ek so as vanselfsprekend aanvaar. Dit het my laat dink aan een van my ma se gesegdes: dat geld net vir haar betekenis het wanneer sy dit nie het nie. Is dit nie hoe dit met alles in die lewe gaan nie? Eers wanneer iets (of iemand) weg is, mis jy dit, wens jy dat jy dit (ook hom of haar) meer waardeer het.

Om in die nóú te lewe het vir my prakties geword – dis om jou sintuie in te span, waar jy ookal is. Om te waardeer wat jy sien, hoor, voel, proe of ruik en dit in jou dankieboek te gaan skryf. Dalk is dit ook ‘n resep vir vreugde, wanneer jy ten volle bewus word van jou belewenis van die oomblik. (Dis sekerlik ook ‘n manier om jou geheue te oefen. As jy die oomblik kan sien, hoor, ruik, proe en voel gaan jy dit gewis onthou ook…)

Ek wil in die volgende paar weke stilstaan by ons sintuie – as ‘n gesonde oefening om dankbaar te wees vir elkeen. Stap die pad saam met my en stuur gerus jou eie gedagtes aan.