Klein ogies, groot gevaar

0
870

Wat jy sien, maak die hart seer. Hoekom dan, as seks en geweld die boustowwe van die meeste programme en flieks op TV is, sak ons net dieper in ons leuenstoele weg?

As jy nog dink dat die tonele op jou TV onskuldig is – gaan dink weer en raak ontslae van jou laissez-faire houding. Die beelde wat jou kind vandag inneem, kan môre haar gedrag bepaal.

Kyk vir ʼn slag self

Gaan op die internet en vra vir navorsing oor TV-kykpatrone. Sonder uitsondering word gesê hoe meer ʼn kind voor die TV lê, hoe groter is die gedragsprobleme. Dit beteken nie jou seuntjie gaan iemand verkrag omdat hy blootgestel word aan tonele van seksuele geweld nie. Maar dit kan hom waarskynlik minder sensitief maak teenoor slagoffers van verkragting en sy persepsies oor seksuele geweld verander. In Suid-Afrika, met sy hoë verkragtingsyfer, kan ons dit glad nie bekostig nie, omdat seuns en mans belangrike vennote is in ons stryd teen seksuele misbruik.

Dit wat jou kinders op televisie of in rolprente sien, dra by tot die vorming van hul seksuele identiteit. Veral tieners wat onder geweldige groepsdruk verkeer en rolprentsterre as rolmodelle sien, word beïnvloed tot onverantwoordelike seksuele gedrag.

Gaan kyk vir ʼn slag weer wie die skamele geklede popsterre is wie se plakkate teen jou kind se muur pryk. Moenie volgende keer opstaan en gaan koffie maak wanneer jou tiener na MTV oorskakel nie. Kan jy die TV afskakel? Seker nie heeltemal nie maar dis tyd dat ons wakker word en begin waarneem wat onder ons oë aangaan.

Prettige geweld?

Maar dit is nie net ons kinders se seksuele gedragvorming wat deur hul mediaverbruik beïnvloed word nie. Geweld is ʼn alledaagse verskynsel in rolprente en op allerlei subtiele manier ook ons televisiekamers oorgeneem.

Hoeveel van ons sit byvoorbeeld nie in gesinskyktyd vasgenael voor die kassie terwyl rofstoeiers mekaar met vuiste toetakel en stoel op mekaar se koppe breek nie? Dit word aangebied as gesinsvermaak, met talle jillende seuntjies en hulle pa’s wat langs die kryt sit en vlaggies swaai en springmielies eet. Maar watter invloed het hierdie beelde van “prettige geweld” op jou kleuter?

Weereens beteken dit nie jou agtjarige rofstoeiverslaafde seuntjie gaan oornag in ʼn boelie verander nie. Maar dit kan dalk maak dat hy afknouery langer sal verduur voor hy by jou daaroor gaan kla, omdat hy minder sensitief staan teenoor geweld.

Maak só!

  • Kyk saam met jou kinders televisie.
  • Stel TV-tye op en hou daarby. Beperk dit tot ʼn maksimum van ʼn uur per dag.
  • Wissel televisiekyk af met sport, stokperdjies, kuier saam met maatjies en kuiertyd saam met die gesin.
  • Hou die televisiestel uit jou kind se slaapkamer. Lees liewer slaaptydstories om jou kind aan die slaap te sus.
  • Praat met jou kind oor die verskille tussen realiteit, fiksie en fantasie. Veral kleiner kinders verstaan aanvanklik moeilik dat al die “bloed” op televisie maar eintlik net “televisie-tamatiesous” is. Kinders moet ook leer om te onderskei tussen televisiekarakters wat “doodgaan” en die realiteit van afsterwe “in die regte lewe”.
  • Programme soos Animal Planet en Discovery is uiters opbouend en interessant vir kinders.

Vat dit so vas!

Die Rolprent en Publikasieraad (RPR) gebruik verskeie ouderdomsbeperkings om te voorkom dat kinders blootgestel word aan ongewensde kykstof. Hulle gee verbruikersadvies om te waarsku teen taalgebruik (L), naaktheid (N), geweld (V), seks (S) en vooroordeel (P).

Voorprente word ook geklassifiseer. ʼn Voorprent met ʼn ouderdomsbeperking van 13 mag nie vertoon word saam met ʼn rolprent wat geskik is vir alle kykers nie. As dit gebeur is die rolprentteater verantwoordelik, en moet ouers die RPR skakel om dit reg te stel.

Die raad reik ook ouderdomsbeperkings uit aan rekenaarspeletjies en dat ouers veral bewus moet wees van geweld in rekenaarspeletjies. In sommige speletjies is die hele doel om mense dood of seer te maak en is hoofkarakters dikwels misdadigers.

Ouers moet besef dit is nie die RPR se verantwoordelikheid om kinders se mediaverbruik te reguleer nie, maar dat die raad ouers ondersteun in die opvoedingsproses.

So, dis seker nie nodig om die TV af te skakel nie. Maar volgende keer wanneer jou kind vir jou sê, “Ma, dis net onskuldige vermaak,” dink maar weer. Want oormôre kan dié kamma onskuldige vermaak dalk haar jong lewe verwoes.