Sit agteroor en word maklik ryk

0
152
beleggings.jpg

Vroue is beter beleggers as mans! Moenie dat die wêreld van beleggings jou intimideer nie. Hier is raad.

Vroue is geduldiger en fokus meer op die lang termyn eerder as om kort-kort te koop en te verkoop. As jy slim belê, kan jy vir jouself baie meer vryheid koop.

1. Spaar of belê? Ken die verskil

Om bloot jou geld te spaar is om alles in ’n spaarrekening te sit. Hoeveel rente jy per jaar kry, hang af van die tipe spaarrekening wat jy gekies het. Die voordeel van ’n spaarrekening is dat jou geld nie verlore gaan nie, maar met inflasie en belasting verloor dit mettertyd waarde. Dit is beter om eerder in aandele te belê. Die groei in die waarde van aandele beskerm jou gewoonlik teen klein veranderinge in inflasie. Die risiko’s is natuurlik groter. As die aandelemark skielik baie ver val, kan die waarde van jou portefeulje baie verminder. In die 2008-markdaling het beleggers amper ’n kwart van die waarde verloor, maar oor lang termyn behoort jou geld te groei.

2. Die basiese beginsels om in aandele te belê

Beleggings op die aandelemark werk so: ’n Aandeel is ’n klein gedeelte van ’n maatskappy wat op die JSB genoteer is. As jy ’n aandeelhouer van ’n maatskappy is, kry jy elke jaar ’n gedeelte van hulle wins as dividend. ’n Mens wil dus belê in maatskappye wat baie wins maak en finansieel groei.
Jy kan ook in ’n maatskappy belê omdat jy glo die waarde van die maatskappy se aandele sal styg. Jy kan dit in die toekoms teen ’n hoër prys verkoop en so wins maak. Min van ons het die kennis om suksesvol te spekuleer – of die tyd om elke dag aandele se prestasie te monitor. Dan belê ’n mens eerder in ’n effektetrust. Dis ’n fonds (soos Investec) waar die beleggers se geld in verskillende aandele belê word. Die bestuurder of fonds spekuleer met aandele en jou geld se waarde neem toe. Jy kry dan elke jaar ’n inkomste uit die wins.

3. Hoe groot is die risiko op beleggings regtig?

Daar is geen rede om bang te wees nie. Die aandelebeurs beweeg daagliks in verskillende rigtings, soms op en soms af, maar oor lang termyn sal die waarde weer toeneem. Goeie maatskappye kan selfs in swak toestande aanhou groei en wins maak. Jy sal dus nie soveel verloor as waarvoor jy bang is nie. ’n Goeie fondsbestuurder sal weet in watter maatskappye hy moet belê. Hy sal ook in voeling wees met die mark om te voorspel wanneer dit tyd is om ’n spesifieke maatskappy se aandele te verkoop.

4. Waar begin jy as jy wil belê?

Jy begin deur ’n handelsrekening oop te maak. Jy kan dit sommer aanlyn doen. Kyk na groot finansiële webtuistes, soos PSG, Sanlam en selfs die banke se webtuistes. Sodra jy die rekening oopgemaak het, kan jy in aandele begin belê, maar ook in verskillende effektetrusts. Vergelyk die kostes van verskillende webtuistes se handelsrekeninge. As jy verkies om dit deur ’n makelaar te doen, is dit ook ’n opsie. Soms het jy net iemand nodig om al die syfers en grafieke vir jou te verduidelik.

5. Hoe om die regte fonds te kies

Belê in die regte effektetrustfonds. Kyk na die doelwitte wat die fonds probeer nastreef. Sommige fondse fokus op laer risiko’s en ander op langtermyngroei. Maak seker dat jou fonds se doelwitte dieselfde is as die finansiële doelwitte wat jy vir jouself gestel het.
As jy ’n finansiële adviseur gebruik, vra hom om die beste fonds aan te beveel. Indien jy aanlyn te werk wil gaan, is daar verskeie webtuistes wat die prestasie van sekere fondse sal vergelyk. Moneyweb is oor die algemeen ’n uitstekende bron as jy in aandele belê.

6. Kyk na die koste van die verskillende fondse

Die fondsbestuurder van ’n effektetrust moet natuurlik sy deel kry. Daar is dus administrasiegeld wat jy moet betaal. Jy wil dan ’n fonds kry waar hierdie geld so laag as moontlik is. Voor jy ’n fonds kies, kyk eerstens na die jaarlikse bestuursfooi van die fonds. Dit moet onder 1,5 % van jou jaarlikse bydrae wees. Tweedens, kyk ook na die totale kosteverhouding. Hierdie syfer toon wat dit kos om die fonds vir ’n jaar te hou. Dit moet onder 2% van jou totale bydrae wees.

7. Wanneer om nie met beleggings te peuter nie

Dis waar geduld ter sprake kom, want jy moet op langtermyngroei fokus. Natuurlik moet jy jou beleggings dophou, maar moenie sommer vir die geringste dingetjie van fonds tot fonds spring nie. Wees geduldig en laat die beleggings wat jy reeds gemaak het, toe om te groei.

Beleggings bied jou vryheid, nie net finansiële vryheid nie, maar ook as dit by jou tyd kom. Met ’n bietjie kundige raad en geduld kan jy maklik die aandelemark baasraak.

Lees meer: Spaar slim op jou huisversekering