Sit geld weg vir onvoorsiene uitgawes

189
Wouter Snyman
Wouter Snyman

Ons almal beleef een of ander tyd ’n krisis. Die meeste noodgevalle het iets met geld te doen: jou motor breek, die skooluitstappie moet betaal word…

Die vraag is nie of daar ’n noodgeval sal wees nie, maar wanneer dit sal gebeur. Die reël is dat jou noodfonds groot genoeg moet wees om al jou uitgawes vir drie tot ses maande te dek, sonder dat jy ’n enkele sent verdien. Dit sal natuurlik van jou leefstyl en situasie afhang.

Jy móét ’n noodemmer hê vir onvoorsiene uitgawes

As jy die broodwinner is, sal dié bedrag baie groter wees as wanneer jy enkellopend is. Gebruik jou tyd en begin net spaar sodat dit ’n gewoonte kan raak. Sowat 10% van jou netto inkomste elke maand is voldoende hiervoor. Om méér as dit te spaar is wonderlik.

As jy ’n noodfonds het, kan jy dit vir enigiets gebruik, soos wanneer jou motor nuwe bande benodig of die huis se dak lek.

Natuurlik gaan daardie emmer vir noodgevalle baie nuttig te pas kom as jou ma bel en sê jou pa is inderhaas hospitaal toe geneem nadat hy erge maagpyn gekry het. Jou ouers het nie ’n mediese fonds nie en jy sal moet help om die hospitaalrekening en medikasie te betaal.

Maak seker jy tref voorsorg vir onvoorsiene gebeure

Jy sal ook baie verlig wees dat jy geld weggesit het vir “eendag” as jy een Vrydagmiddag, op pad om ’n kollega se bevordering saam met haar te gaan vier, deur die baas ingeroep word.

Om ’n lang storie kort te maak: Hoewel jy baie bygedra het tot die maatskappy, is jou pos oortollig verklaar. Eina! Hoe kon hulle dit aan jou doen? Niemand is daarteen gevrywaar nie.

Jou wekker lui. Jy druk dit dood. Jy wil kantoor toe bel en sê jy is siek. Vandag. Môre. Elke dag. Jy het geen passie meer vir jou werk nie. Jy wil graag bedank en jou droom najaag. Maar jy kan nie, want hoe gaan jy jou rekeninge betaal?

Hou jou noodfonds in die bank, maar kry ander maniere om geld vir jou oudag te belê.

Belê jou geld en kyk hoe dit groei

Daar is verskillende beleggingsmoontlikhede om uit te kies, soos eiendom, lewensversekering, effektetrusts of aandele. Dit is natuurlik ’n aaneenlopende proses wat eers sal stop as jy finansiële onafhanklikheid en aftrede bereik het.

As jou inkomste tot die dag van jou dood instroom, kan jy boonop ’n stewige erfporsie vir jou geliefdes verseker.

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om eiendom te koop nie. Hoe vroeër, hoe beter. Jy dink dalk jy is nog ongetroud en jy weet nie eintlik waarheen die lewe jou gaan vat nie.

Dis juis terwyl jy nog ongetroud is en minder finansiële verpligtinge het dat jy ’n bietjie meer geld het wat jy kan gebruik om ’n huis te koop.

Miskien beplan jy om oorsee te gaan werk. Wonderlik! Dan kan jy jou eiendom verhuur en ’n passiewe inkomste genereer. Jy kan die huurgeld gebruik om jou verband af te betaal en só betaal die huis eintlik homself.

Iemand het eenkeer gesê: “If you fail to plan, you plan to fail.” Doen jou beplanning!

Wouter Snyman – Finansies, besigheid en entrepreneurskap

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.

Volgende jaar jonger Gebruik die afslagkode WOUTER om die boek VOLGENDE JAAR JONGER aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag.
R99 R199