Sit vrees op sy plek

330
vrees

Vrees is ’n kort woordjie wat soms monsteragtige proporsies aanneem – veral in ’n kind se wêreld. Help hulle om dié normale deel van grootword te hanteer.

Studies toon dat ongeveer 40% van kinders tussen 6 en 12 jaar met angs en bekommernisse rondloop. Dit kom na vore namate hulle die wêreld om hulle ondersoek, nuwe ervarings beleef en voor nuwe uitdagings te staan kom.

’n Vrees vir die donker is algemeen. So ook vir diere, soos groot, blaffende honde. Party kinders skrik vir vuur of donderstorms. Baie is bang vir inbrekers, kapers en boelies.

Ouers moet hulle beste wapens regkry vir die stryd. Praat daaroor en win soveel moontlik kennis in oor die onderwerp wat hulle die skrik op die lyf jaag.

Gee die vrees ’n naam en praat daaroor

As hulle in die nag skrik vir vreemde geluide, gee sommer dadelik ’n naam daarvoor: “Dit klink soos ’n tak wat teen die venster krap. Kom ek gaan kyk gou wat dit is.” Die bangmaakding word dus “’n tak wat krap” – die eerste stap om die “bang” uit die situasie te haal.

’n Oulike manier waarop jy hulle kan leer om hulle vrese met jou te deel, is om hulle te laat beurte maak met regte en voorregte.

Maak dit haar beurt om voor in die kar te sit, te kyk dat al die deure gesluit is en almal veilig is. Met slapenstyd maak sy alleen aanspraak op Pa of Ma se aandag, sonder dat een van die boeties of sussies om aandag meeding.

Wanneer jy saans langs hulle lê en gesels, hoor jy die dinge wat op hulle harte is en wat regtig pla.

Dieselfde geld vir bekommernis oor die toekoms. Praat met hulle daaroor. Leer hulle dat as jy ’n bietjie insit, jy net ’n bietjie terugkry. Werk dus hard, doen jou bes en jy sál bo uitkom.

Kennis maak die reus kleiner

Gestel jy vind uit dat jou seunskind die slagoffer van ’n boelie is. Al is dit iets wat algemeen onder seuns voorkom, kan dit baie skade doen. Moet dit dus nie net ignoreer en hoop dit sal vanself verdwyn nie.

Hanteer die situasie deur daaroor te praat. Praat oor hoe en wanneer dit gebeur, hoe dit hom laat voel en hoekom die boelie doen wat hy doen.

Dis waar kennis as wapen inkom. Doen byvoorbeeld saam ’n persoonlikheidsontleding van die boelie om agter te kom wie eintlik die slagoffer is.

Hy sal besef dat die ander outjie eintlik die een is met die probleem. Hy tree so op omdat hy self magteloos voel en ’n swak selfbeeld het.

Wanneer jou kind die “hoekom” verstaan, kan hy die situasie baie beter hanteer.

Kennis gee ’n mens gemoedsrus én ’n groter perspektief op die dinge wat jou onseker laat voel. Uiteindelik besef jy dat dit nie so erg is nie en dat daar altyd ’n ander uitweg is.

Leer hulle dat geloof die monster wegjaag

Omdat vrees nie van God af kom nie, is gebed beslis die grootste wapen in hierdie situasie. Kleingoed moet weet dat hulle vrees ’n vuishou kan toedien deur hulle oë toe te maak en met hulle hemelse Pappa te praat.

Pa en Ma kan ’n voorbeeld stel deur elke onbekende situasie in geloof aan te pak. Op dié manier kry spanning nie veel lugtyd in julle huis nie. Pak dit by die horings en speel so vinnig moontlik daarmee klaar.

Kry ’n mantra wat julle in so ’n situasie vir mekaar kan sê of WhatsApp. Iets soos: Laat gaan en laat God.