Sjokolademodderkoek

0
33
sjokolade_koek_resep.jpg

Wie het nou al ooit “nee dankie” kon sê vir ’n sjokoladekoek? Dié sjokolademodderkoek resep gaan jou gaste laat vingers aflek.

Genoeg vir 8
Tyd: 45 minute

BESTANDDELE
200 g donkersjokolade, gekap
125 g botter
180 ml sagte bruinsuiker
10 ml vanieljegeursel
3 eiers
250 ml bruismeel
125 ml Horlicks Regular
125 ml kakaopoeier
knypie sout

Vir die versiersel
50 g botter
100 g donkersjokolade, gekap
60 ml Horlicks Regular
330 ml versiersuiker
15 ml kakaopoeier
45 ml melk
5 ml vanieljegeursel
200 g Whispers-sjokolade (opsioneel)

METODE
1 Stel die oond op 160°C. Voer die basis van ’n 21 cm ronde pan met bakpapier uit. Smelt die sjokolade en botter in die mikrogolfoond vir ongeveer 1-2 minute, en roer elke 30 sekondes. Meng die suiker, vanielje en eiers by.
2 Sif die bruismeel, Horlicks, kakaopoeier en sout saam. Meng dit deur die sjokolademengsel. Giet in die voorbereide pan. Bak ongeveer 25-30 minute tot gaar, of wanneer ’n toetspen skoon uitkom met ’n paar klam krummels. Laat in die pan afkoel.
3 Die versiersel: Smelt die botter en sjokolade in die mikrogolfoond vir ongeveer 1-2 minute en roer elke 30 sekondes. Klits die Horlicks, versiersuiker, kakaopoeier, melk en vanielje by. Laat staan vir ’n paar minute om styf te word en smeer dit dan oor die koek. Maak ’n hartjie in die middel met die Whispers.