Skep die lewe wat jy graag wil hê

2976

As jy tevrede met jou lewe wil wees, moet jy groot droom, glo Nádine, maar ook aanhou om jou drome aan te pas.

Ek het nog nie die lewe van my drome geskep nie. As ’n mens so jonk begin sing, het jy dikwels nogal onrealistiese mikpunte. By sommige kom jy uit, maar ek het toe nooit my Porsche gery op 21 nie. Die belangrikste dinge vir my nou is egter liefde, vertroue en sekuriteit binne ’n verhouding, vriendskappe en familiebande.

Hoe jy as volwassene met jou emosies omgaan, het baie te doen met die manier waarop jy grootgemaak is. My ma het my van kleins af besluite laat neem, met die voorwaarde dat ek die gevolge daarvan moet besef en kan dra. Die grootste uitdaging was om in te stap in ’n wêreld vol suksesvolle, gesoute en ervare sangers. En om my eie voete daar te vind. Die volgende een was om weer net jonk en lighartig te wees. Dis ’n moeilike balans om te handhaaf. Jy moet net kan mens wees en weet jy kan maar foute begaan.

Soms is ’n mens so seer of stukkend dat uithou en aanhou jou enigste opsie is. Jy oorleef tot jy skielik agterkom jy begin weer leef.

Eers dan besef jy hoe sterk jy kan wees. ’n Paar jaar gelede het my hond my bolip oopgebyt. Ek moes omtrent 40 steke in en aan my mond kry en van voor af die spiere oefen om my mond te tuit of te glimlag. Dit het my geleer dat wat ander kan sien, regtig nie die belangrikste ding is nie, maar wie jy word wanneer jy moeilike tye moet oorleef. Wees goed vir jouself, vergewe jouself, begin met klein, basiese dingetjies en fokus net daarop.

Op 10 het ek gedink ek kan die wêreld verower voor ek groot sou wees. En dis goed so. ’n Mens moet so dink as jy klein is. Mettertyd besef jy dat elke mens se suksesverhaal nie is wat ons dink dit is nie, maar vol van hulle eie geluk en pyn is. Ons almal het drome, en dis belangrik dat jy jou drome bly aanpas by jou denke en ervarings.

Tog moet dit nog steeds groter wees as wat jy en die wêreld dink moontlik is.

Om verantwoordelikheid vir jou eie geluk te aanvaar, moet jy aanvaar dat nie almal van jou gaan hou nie, maak nie saak wat jy probeer nie. Fokus op dié wat wel jou hart wil verstaan. So leer jy om die beste van jouself vir mense om jou te gee. As jy jouself deur God se oë sien, besef jy hoe uniek en spesiaal elkeen van ons is – ons denke, ons hart en ons verstand.

Dit is moeilik om presies te beskryf hoe om positief te wees. Wat een mens motiveer, beteken vir ’n ander niks. As ek soms terneergedruk en hartseer is, help dit om te fokus op die klein dingetjies wat my hart gelukkig maak en om van alle ander dinge ontslae te raak. Ook om die invloed te sien wat my musiek op ander mense het en weer te onthou dat alles net tydelik is.

Dit is oukei om goeie en slegte dae te hê. Goeie musiek, boeke en die wete dat daar altyd iemand is wat dit moeiliker het as jy, herinner jou daaraan om dankbaar te wees, iets wat baie belangrik is as jy positief en gelukkig wil wees. Op die dae wat twyfel insluip, praat ek met my beste vriend en my ma, en dink minder en doen meer.