Skep moed atlete!

atletiek

Ek hou van die jaarlikse interhuis atletiek en doen moeite om daar te kan wees.

Dis nie asof my kinders ooit op die podium verskyn en medaljes huis toe bring nie, maar dis lekker om te sien hoe hulle bestes gee. Hoe hul my gesig tussen die skare mammas en pappas soek sodat ek vir hulle kan glimlag.

Ek trotseer dan graag die son en die wind.

Dis n dag waar almal mag deelneem. Stadiges en vinniges, lank en skraal of kort en rond. Ek dink dis waarvan ek die meeste hou. Niemand word gekeer of geweeg en te lig (of dalk te swaar) gevind nie. Elkeen verdien ‘n punt vir sy span.

Ek verkyk my egter ook aan die mammas en pappas. Meestal is daar groot afwagting en die kameras word uitgehaal. Soms is daar ouers en kinders wat teleurgesteld is. Wat val oor die laaste hekkie of oortrap by die verspring. Die kuns lê daarin om te kan opstaan en aan te hou al is jy heel agter.

Iets van die lewe speel voor my af . Ons is immers almal eintlik atlete op die lewenswedloop. Elkeen met unieke einskappe. Sommige vaar beter as ander en beland op die podium.   Ander val en kry swaar. Paulus weet dat hy oppad is na die wenstreep. Hy span hom in al weet hy dat alles nie perfek is nie.

Wanneer ek in die week die stukkie in Jesaja lees: “Bemoedig die wie se hande slap hang, help die wie se kniee knik, sê vir die wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier.” besef ek weer eens ons verantwoordelikhede tussen al die atlete rondom ons. Ons kan nie die waterkrisis en die politieke onstabiliteit ignoreer nie, maar ons kan kies om ons oog op Jesus te hou.

Ons God is steeds hier. Hy het die wedloop reeds oorwin. Skep moed. Wees sterk, moenie bang wees nie. Hy sorg vir ons.