Skietgoed teen griep

0
59
griep.jpg

Wanneer die tyd van hoes en proes, snuif en nies nader sluip wonder almal of hulle eerder die griepinspuiting oorslaan? En is vitamien C regtig so goed? Dr. Marelize Caminsky, homeopaat van Natura, gee raad.

Is dit nodig om elke jaar ’n inspuiting teen griep te kry of kan ek nou en dan oorslaan?

Die mengsel van dooie griepvirusse in die inspuiting berei die immuunsisteem vir die griepseisoen voor. Jou liggaam maak dan teenliggaampies wat die virus kan beveg en doodmaak wanneer jy weer daarmee in aanraking kom. Dis jou eie keuse of jy ’n griepinspuiting wil kry of nie. Jong kinders, ouer mense, swanger vroue en mense met sekere gesondheidstoestande soos asma en hartprobleme mag komplikasies ontwikkel as hulle griep kry. Indien jy in die gesondheidsbedryf werk of in ’n tehuis of koshuis woon, is dit raadsaam om eerder voorbereid te wees. Goeie higiëne is steeds die beste beskerming teen griep. Was jou hande gereeld met seep en warm water. As jy wel griep kry, kan jy ’n paar dinge doen om vinniger te herstel. Natura se Pentagen sal help om die intensiteit en duur van die simptome te verminder. Gebruik dit saam met baie rus, warm vloeistowwe, ’n sout neussproei, gorrel met lou soutwater en tuisgemaakte hoendersop.

Hoekom word ek siek wanneer my immuunsisteem nie sterk genoeg is om teen siektes en ander kieme te baklei nie?

Jou liggaam het sy eie meganismes wat jou teen die daaglikse aanslae van bakterieë, virusse en ander mikro-organismes beskerm. Jou ingebore immuniteit is die eerste linie van verdediging teen indringers. Dit sluit byvoorbeeld jou vel en die slymvliese in jou lugweë in. As hierdie grense afgebreek word, is dit die immuunstelsel se werk om jou teen infeksie te beskerm. Die belangrikste selle wat oorlog teen indringers voer, is die witbloedselle oftewel limfosiete. As jy aan siektes en organismes blootgestel word – deur kontak met mense of deur inentings – begin jy aanpassingsimmuniteit ontwikkel. Wanneer jy vir die eerste keer aan ’n spesifieke aansteeklike organisme blootgestel word, maak die limfosiete teenliggaampies, wat verseker dat jou immuunstelsel die organisme vir die grootste deel van jou lewe sal onthou. Wanneer daardie organisme die liggaam binnekom, sal die teenliggaampies dit herken en ander witbloedselle werf om die indringers dood te maak en te verhoed dat jy siek word.

Is dit belangrik om ’n vitamien C-aanvulling te neem om my immuunstelsel sterker te maak en my teen verkoue te beskerm?

Vitamien C is baie belangrik vir normale groei en ontwikkeling, maar of dit regtig effektief is om infeksies te voorkom of te behandel is ’n kwessie waaroor daar nog nie uitsluitsel gekry is nie. Volgens studies daal die vitamien C-konsentrasie in jou bloed en witbloedselle as jy baie gespanne is of ’n infeksie het. Dit is tog bewys dat aanvullings infeksies soos die gewone verkoue korter en minder ernstig maak. ’n Gesonde dieet moet ’n voldoende hoeveelheid vitamien C bevat. Alkohol, sigarette, pynstillers, mondelingse voorbehoedmiddels en ander medikasie verlaag die vlak van vitamiene in die liggaam en kan die behoefte aan hierdie vitamien verhoog. Jou huisdokter kan jou meer raad gee hieroor. Vir maksimum effek moet jy die vitamien C twee keer ’n dag in kleiner dosisse neem, dit wil sê, 500 milligram in die oggend en aand, eerder as 1 000 milligram in die oggend.