Skoolsiekte

Liewe Persoon,

Ek en die Juffrou was nooit (ooit) laat vir skool nie. Vir twaalf lange jare was ons elke oggend presies betyds. Of dit nou reën, hael, sneeu (wat dit wel eenkeer in Virginia gedoen het) of die son bloedig skroei, die Willemse-tweeling was betyds. Altyd.

Skoolsiekte het nie in ons huis nesgeskop nie – ten spyte van desperate pogings deur die uwe en die Juffrou. Let’s face it: daar is dae wat liefs vermy moet word. In daai jare was dit veral hoofrekeningtoetse by Meneer Grobbelaar of aardrykskunde by Juffrou Van Heerden wat ernstige gevalle van skoolsiekte laat posvat het. Iewers tussen die somtotaal van ko-binnehoeke en die samestelling van Cumulonimbus-wolke (ook genoem stapelwolke) het jou maag begin draai. Sweetdruppels het op jou voorkop gepêrel en jou mond het kurkdroog geword.

Ma wou niks van skoolsiekte weet: sy het geglo dat dit wat jou nie doodmaak nie, jou vir die toekoms sal voorberei. Wat sy nie toe geweet het nie, is dat dit wat nie doodmaak nie aanleiding gee tot vreemde en ongesonde coping skills. Vandag nog glo ek dat Woollies Chuckles en vanilla roomys vir bykans enige skeet werk. Ek kou per geleentheid my naels en ek suig met soveel passie aan potlode soos ‘n strawwe roker aan ‘n sigaret na ‘n kerkraadsvergadering.

Maar waar dwaal ek vandag rond?

Ek dink skoolsiekte is soos die kiem wat koorsblare veroorsaak. Dit bly in jou gestel vir altyd en vir ewig (en herinner jou klokslag voor ‘n groot en fênsie affêre van sy teenwoordigheid, want niks is mos so aantreklik soos ‘n Angelina Jolie-bolip wat glinster van antibiotikasalf nie). In latere jare word die skoolsiekte-kiem ‘n werksiekte-virus. Simptome sluit in: ‘n traagheid om uit die bed te klim, ongekende lompheid (oppad kombuis toe stamp jy jou toon klokslag teen dieselfde stoel in die gang en trap jy met jou kaalvoete op ‘n Lego-blokkie – of Ounooi se blapsie), ongeduldigheid (want, hoe lank kan ‘n pakkie instant oats nou vat om gaar te kom?) en, laaste maar beslis die gevaarlikste simptoon: ek-het-niks-om-aan-te-trek-nie!!

Laasgenoemde was al menige vrou se ondergang.

Vra maar vir enige werksiekte-lyer, hulle sal my dit beaam: op werksiekdae loop die tyd so stadig soos ‘n tuinslak oor skuurpapier. Kollegas voel jou frustrasie aan en is sommer ook skuins befoeterd. Sperdatums skuif roekeloos rond en skielik wil die telefoon nie ophou lui nie. Teen etenstyd het jy al vergange jou broodjies geëet en jou long lasting lipstiffie klou lankal nie meer nie, nee: daai Fiery Red-lippe kleef nou aan jou koffiebeker soos ‘n Bloubul-ondersteuner aan seisoenkaartjies op Loftus.

Ek is nie skaam om dit te erken nie. Ek het vandag ‘n ernstige toeval van werksiekte. Dit is ontsettend tragies dat daar nie ‘n kuur of boereraat vir dié toestand is nie.  Dis nog te vroeg vir ‘n Tjok-99 roomys met ‘n flake. Dit is nog te vroeg om my kantoorlaai dramaties toe te slaan (lees: hier is nog niemand in die kantoor om dit te waardeer nie), en mense (selfs in Vanderbijlpark) sien neer op jou as jy sommer net – sonder rede, aan ‘n kollega stamp…

Vorige artikelLees Kultuur
Volgende artikelVat jou tyd
Blogger - Annette Willemse
Annette Willemse is ’n oud-joernalis, fotograaf, dosent, korporatiewe kommunikasiespesialis, skrywer, dromer en doener! Skryf is vir my soos ’n pleister vir die siel, soos rooiwyn vir die liefde en soos koeksusters by ’n kerkbasaar. Ek lééf in prentjies en in stories. Gelukkig laat my beroep as Korporatiewe Kommunikasiepraktisyn my toe om myself – elke dag, met woorde te besig. Ek het my voorliefde vir lees en skryf by my ma – ook Annette, gekry. Ons erken maklik dat ons van brood sal leef solank ons net ’n ietsie het om te lees.