Skoonheidsredakteurs se geheime

0
48
skoonheid.png

Die room van Suid-Afrika se mooimaakjoernaliste vertel jou wat hulle gewoonlik net by vriendinne kwytraak.

Die room van Suid-Afrika se mooimaakjoernaliste vertel jou wat hulle gewoonlik net by vriendinne kwytraak.

Om ’n skoonheidsjoernalis te wees verg meer as om die lipglans te beproef wat op jou toetstafel beland. Van slanggif tot slakslym, van modder en stink alge tot die skalpel of spuitnaalde – skoonheidskrywers skrik vir niks! Dis immers ons werk om die nuutste grimeerneigings te bestudeer en velsorgprodukte te resenseer. Ek gesels met ander skoonheidsredakteurs van ons land se toptydskrifte en die skrywers van ons mees gesaghebbende mooimaakblogs. Elkeen verklap hulle grootste skoonheidsgeheime. Hulle deel ook die kaalkop waarheid oor skoonheidsgiere wat bloot geldmors is. Bewaar die artikel, en maak hulle gewoontes jóú gewoontes. Neem die storie saam as jou inkopielysie wanneer jy weer produkte vir jou smuktas gaan koop.

Elsa Krüger, stigter van die eerste Afrikaanse skoonheidsblog
vir 40+ vroue, www.mooipraatjies.com

ESTETIESE BEHANDELING Ongetwyfeld ’n ligte chemiese afskilfering. Dis die vinnigste en mees bekostigbare estetiese behandeling. Ek is lugtig vir diep velafskilferings, maar het wonderlike resultate gesien by vroue wat met pigmentasie en akneeletsels sukkel.
Jy moet egter jou gesig in die hande van ’n terapeut sit wat jy vertrou. Ek is opgewonde oor Sonette Donker se Skin ID kliniek. Sy spesialiseer al dekades lank in chemiese velskilfering. Vanaf R550 www.skinid.co.za
VERMY DIT Daar is een ding wat ek nooit aste nimmer sal doen nie: permanente grimering. Dit word nou eenmaal nie mooi oud nie!
NUWE TENDENS Olies – vir jou vel, hare, naels en lyf. Ek is dolverlief op die Lipidol-reeks wat verlede jaar bekendgestel is. Nie een botteltjie kos meer as R80 nie en daar is fyn olies vir jou gesig, lyf, die stort en selfs naskeerolie vir jou man. Verkrygbaar by Clicks.lamer_0.png
HERSTEL VEL Ek is nooit sonder Crème de la Mer (R1 750 vir 30 ml) nie. Skoonheidskrywers flankeer en eksperimenteer immers pal met nuwe produkte – dis soos om elke week ’n ander kêrel te hê! Ek betaal soms die prys daarvoor as dit nie met my vel akkordeer nie; dan keer ek terug na La Mer. Dit bevat helende ekstrakte wat my vel pamperlang tot ’n perfekte toestand. Verkrygbaar by uitgesoekte Edgars-winkels.

Ryno Mulder, styl- en skoonheidsredakteur
van FINESSE-tydskrif

BOTOX WÉRK Dis beter as die beste plooiroom. Ek het twee lyne op my voorkop, maar met Botox is my voorkop glad. Die enigste jammerte is dat die effek daarvan nie drie maande lank sigbaar bly nie. Dalk het my gestel al teenliggame daarteen opgebou?
Dr. Mark Opperman is regtig uitstekend. Botox vanaf R1 200 per area. www.drmarkopperman.co.za
basite.pngSKOON HARE Ek was elke dag hare, maar dis nie prakties of koste-effektief nie. Saam met die droogblaas- en stileerproses neem dit maklik ’n ekstra uur in beslag. As jou hare gekleur is, vervaag die kleur gouer. Batiste Dry Shampoo (R60) is haarsproei wat jou haarwortels verfris. Die olie-absorberende werking is uitsonderlik. As jy dit een keer gebruik, hoef jy vir vier dae daarna nie hare te was nie. Verkrygbaar by Clicks.
HOLLYWOOD-GLIMLAG Om jou tande skitterwit en perfek te kry kos ’n klein fortuin. Maar Thineers deur dr. Trevor Wasserman is die enigste kosmetiese behandeling waarmee ek absoluut tevrede is. Die prosedure was pynloos en die afspraak het slegs ’n uur geduur.
R4 500 per tand. Tel: 011 684 1135
KRAGTIGSTE PLOOIBESTRYDER Daar is nog nie bewys dat eksotiese bestanddele jou jonger laat lyk net omdat dit ongewoon is nie. Vitamien A, oftewel retinol, is bykans die enigste middel waaroor mediese dokters saamstem dat dit plooie en aknee verlig.

Chantelle Bester, blogger en bemarkingsbestuurder, www.NotAnotherPoppie.com

maskarra.pngPLAASLIKE REEKS Jy kan nie ’n fout begaan met Nimue nie. Ek het jare lank as skoonheidsterapeut daarmee gewerk. Hulle tegnologie is gevorderd en hulle resultate is uitstekend op enige probleemtipe vel.
BESTE MASKARA Maybelline is nie verniet die topverkoperhandelsmerk in die wêreld nie – hulle het die heel eerste maskara vervaardig. Jy kan met gerustheid enige van hulle formules gebruik, maar The Colossal Volum’ Express Mascara (R130) is my gunsteling.
ultra_brand.pngNUWE REINIGER Maak jou gesig skoon met ’n reinigingsolie soos Lush Ultrabland Cleanser (R115) in plaas van die gewone skuimtipe gesigsreinigers. Die oliebasis sal jou vel se pH-balans handhaaf en sodoende rooiheid, droogheid en puisies onder beheer hou. Die skoonheidsbedryf fokus oor die algemeen al meer op olieprodukte omdat dit sagkens met jou vel werk. Verkrygbaar by Lush in Kaapstad (Waterfront, Cavendish Square, Canal Walk) en Durban (Gateway).
GLOEI MEER Moenie bang wees vir ’n bietjie glans nie. ’n Mat onderlaag en baie poeier laat jou vel dof en leweloos lyk. ’n Gloeiende vel daarteenoor laat jou jonger en lewenskragtig lyk. Dra vloeibare of roomonderlaag in ’n ligte formule en sit verbloemer net op die merkies wat jou pla. Jy kan ’n kleurlose (oftewel translucent) poeier aan jou neus en voorkop gebruik as jou vel olierig is.