Skraal, gesond en gelukkig

634
Pieter en Lotie Koen

Die sanger Pieter Koen en sy vrou, Lotie, is ’n bewys dat “ougetroudes” nie lewensmoeg, ongelukkig of oorgewig hoef te wees nie.

Dis nogal iets om te aanskou: ’n Paartjie in hulle veertigs, lank getroud, drie kinders, en wat só goed, gesond en gelukkig saam lyk. Die sanger Pieter Koen en sy vrou, Lotie, is ’n bewys dat “ougetroudes” nie lewensmoeg, ongelukkig of oorgewig hoef te wees nie.

Hulle was ook al daar: die klassieke gevolge van jare se getroude lewe. Twee mense onder een dak wat by mekaar verby begin leef het. “Op ’n stadium het ons mekaar in die verbygaan ge-fist-bump in die gang. ‘Howzit, pêlla’,” onthou Lotie. “Dit was bedoel as ’n grap, maar ons kon nie die wrede werklikheid ignoreer nie. Wanneer Pieter by die huis gekom het na optredes, was ek weer op pad uit. Ons het min tyd as man en vrou saam deurgebring.”

Werk, kinders, die honderde verantwoordelikhede van ’n huishouding… elke aspek van hulle besige lewe het sy tol geëis. Die feit dat nie Lotie óf Pieter vreeslik goed oor hulle voorkoms gevoel het nie, het die situasie net vererger.

Frustrasie, skaamte, teleurstelling – dit was maar net ’n paar van die emosies waarmee elkeen geworstel het. Dinge sou moes verander…

Die waarheid maak seer, maar soms moet ’n mens dit hoor. Lotie het die dag saam met haar ma inkopies gaan doen in Pretoria. “Jy’t nogal baie gewig aangesit,” het haar ma terloops gesê toe hulle by een van die winkels uitstap.

Dit het haar soos ’n skoot koue water in die gesig getref.

“My ma is lief vir my. Ek weet sy’s nie daarop uit om my seer te maak nie. Sy wil net die beste vir my hê. Daarom was dit so moeilik, maar ook nodig, om sulke woorde uit haar mond te hoor,” onthou Lotie.

Sy het geweet haar ma is reg. “Ek het te lank uitgestel. Te lank die verskoning gebruik dat ek drie kinders het. Dat ek ‘Maandag’ met ’n dieet sal begin.” Teen Woensdag het sy haarself wysgemaak dat sy eintlik die volgende Maandag bedoel het.

Pieter het met sy eie voorkoms-uitdagings gespook. “Uit die aard van my werk moet ek goed lyk én voel op die verhoog, maar ek het gesukkel om van my boep ontslae te raak. My cholesterol was te hoog en my energie was nie wat dit moes wees nie.”

By fotosessies veral kon hy nie die ekstra kilo’s wegtoor nie. “Eers moes ek hoop en bid dat ek in die klere sou pas wat die stilis daar aanbring,” onthou Pieter met ’n verleë laggie. “Dan, as ek dit aangetrek het, moes ek die vernedering hanteer as die knope oor my maag gespan het.” Hy het gewoonlik die hele sessie deur sy maag probeer intrek, wat hom skoon kortasem laat raak het. “Dan moes die grimeerkunstenaar weer sukkel om die blou aar op my voorkop te verbloem… van die min suurstof!”

Kort voor lank het hulle gewigskwessies hulle verhouding begin beïnvloed.

Lotie het haarself wysgemaak dis nie so erg nie. “Ek is ’n besige ma en vrou. My gewig maak nie saak nie.” Maar die ekstra kilo’s hét saak gemaak. Wanneer hulle intiem was, moes die lig eerder af. Of sy sou gaan stort as Pieter nie naby was nie. Wanneer sy wel uit die stort sou kom met hom in die omtrek, was sy seergemaak as hy nie eers twee keer in haar rigting gekyk het nie.

Haar vetjies het hom ook gepla, en syne vir haar. “Omdat ek nie van konflik hou nie, het ek baiekeer gedink: ‘Sjoe, my vrou, wil jy nie ’n bietjie iets aan jou gewig doen nie?’ Maar ek het besluit om dit nie te sê nie. Ek het gereken dit sou haar net onnodig seermaak. In elk geval, wie was ek om te praat, met hierdie boep van my wat nie wou weg nie?” Hy het net al hoe meer gefrustreerd gevoel.

Lotie het met dieselfde gevoelens geworstel. “Ek is ’n baie reguit mens. Sê ’n ding soos hy is,” erken sy. Daarom, as Pieter op die bank gesit-lê en TV kyk het, sou sy hom sommer in die ribbes pomp en sê: “Haai, wanneer doen jy iets aan daai maag?” Of: “Ek hou nie van jou dubbele ken of die love handles om jou middellyf nie.”

Maar eintlik het sy geweet sy kon nie te veel raas en kerm nie. “Ek het dan self met ’n baie groter probleem gesit.”

 “Ek het nie meer mooi gevoel nie,” bieg Lotie. Te lank het sy agter die gewone verskonings weggekruip: te besig, te min tyd, nie genoeg motivering nie. “My kop was jare lank bloot nie ‘reg’ vir ’n leefstylverandering nie.” Want dit is wat eintlik nodig was om ’n verandering te bewerkstellig – ’n nuwe manier van dink. Nie net ’n nuwe manier van eet nie.

Pieter moes ook sy manier van eet en drink én dink verander, veral in die ouerdomsfase waarin hulle is – ’n fase waarin jou metabolisme stadiger raak en hormoonveranderinge ook ’n rol speel.

Wat Pieter en Lotie nodig gehad het, was ’n couple’s midlife makeover – iets wat hulle as moeë huweliksmaats in hulle veertigs dringend nodig gehad het. Die beginsels is op alle paartjies van toepassing. Die twee goue reëls is: samewerking en ondersteuning.

Met behulp van Finesse se Nuwe Jy-projek het hulle ’n gesonde eetprogram aangepak, aangevul deur sielkundige beradingsessies om ’n goeie liggaam-siel-gees-balans te kry.

Pieter het eers skewebek getrek vir die idee. “Ons was al op honderde diëte,” verduidelik hy. “Ons oefen selfs al jare lank in ’n gimnasium.” Tog het goeie resultate hulle bly ontwyk. “Ons het besef jy kan nie net hard oefen nie. Jy moet ook reg eet én reg dink oor kos: nie net vir ’n week of twee nie, maar maand na maand.” Toewyding is die wagwoord.

Die feit dat hulle nou saam in die ding was, was hierdie keer die deurslaggewende faktor. “Met ’n bietjie geredekawel dié kant toe en daardie kant toe, het ons albei uiteindelik die idee heelhartig aanvaar, en dís belangrik,” sê Pieter, “want sukses begin by die wil om suksesvol te wees.”

’n Kosskuif het ’n kopskuif geword. Anders as met vorige probeerslae was daar hierdie keer ’n spesifieke plan wat gevolg moes word, met duidelike doelwitte om te behaal. “Om dit saam te doen – saam te ly, saam te lag, saam lus te word vir kroek, saam die oorwinnings te vier as die skaal se naald sak – was ’n lekker bonus,” sê Pieter. Hulle het ook aanhou oefen in die gimnasium, sowat drie keer ’n week, of gaan stap as die tyd beperk was.

Met aanhou en vasbyt, maand na maand, het Lotie 16 kg verloor, en Pieter ongeveer 8 kg, “maar die gewigsverlies was uiteindelik net die suigstokkie op die tafel vol lekkergoed wat vir ons gedek is,” vertel Lotie.

Hulle het ook geleer dat perspektief die verskil is tussen straf en plesier. “Gesonder koskeuses en ’n aktiewer leefstyl hou baie meer voordele in as om ongesond te leef,” sê Pieter. Dit beteken meer energie, ’n beter selfbeeld, groter selfvertroue en ’n nuwe lus vir die lewe – selfs al is jy jare lank getroud en anderkant veertig.

“Eintlik gaan dit nie daaroor om op jou beste te lyk nie, maar om jou beste te voel. Die ‘goed lyk’ volg dan vanself,” voeg Pieter by.

Lotie geniet ook die komplimente wat deesdae maklik haar kant toe kom… en veral Pieter se reaksie daarop. “Ons het nou die dag na ons seun se rugby gaan kyk, en toe kom daar ’n man na my toe wat sê: ‘Jy lyk goed’. En dit in my sweetpak!” Pieter het die opmerking gehoor en onderlangs gemompel dat hy die ou sommer ’n opstopper sal gee.

“Na al my vertwyfeling oor die afgelope paar jaar was dit lekker om te sien dat Pieter darem nog jaloers is en my net vir homself wil hê.”