Skryf jou eie suksesstorie

Volg jy graag die suksesstories van ander? Bewonder jy die suksesvolle vrouens op die voorblaaie?

Wens jy, jy kon ook so suksesvol wees, so mooi, so goed gebou, so sprankelend, so stylvol aantrek, so ‘n fantastiese verhouding hê. Wat as jy ook so kon praat, so slim was, so ryk was of so baie kon bereik het.

Ons almal het drome en ideale, maar dit bly dikwels net drome en ideale. Die meeste drome lê begrawe in die begrafplaas; mense wat nooit hulle drome verwesenlik het nie. Het jy al gaan stil sit en dink wat keer jou om jou drome te verwesenlik? Is jy onseker… is jy bang… weet jy nie waar om te begin nie… hou geld jou terug… het jy nie genoeg tyd nie… voel jy die tyd is nie reg nie… wag jy dat iets anders eers moet gebeur… wil jy nie uit jou gemaksone beweeg nie?

Hoekom moet jy net met bewondering toekyk hoe ander sukses behaal? Hoekom kan jy nie jou eie suksesstorie skryf nie? Ek het nog altyd hierdie droom dat ek eendag ‘n groot wildsplaas wil besit met ‘n lodge en ‘n spa. Dit klink na ‘n droom wat te groot is om te verwesenlik. Ek het egter besef ek is die grootste struikelblok wat tussen my en my drome staan. Niks kan my keer om my droom te bereik as ek glo in my droom, ek het ‘n plan om daarby uit te kom en ek neem aksie nie. Ek moes uit my gemaksone beweeg. As Geoktrooieerde Rekenmeester is ek van nature versigtig vir risiko, maar ek moes leer om risiko te neem. Ek het daardie eerste stap gewaag en my eie gastehuis gekoop. Dit is ‘n klein stap, maar dis ‘n stap in die regte rigting, dis ‘n tree nader aan my groot droom. Dit gaan nie maklik wees nie, maar daar is ‘n groter prentjie.

Die waarheid is ons is verantwoordelik vir wat ons in die lewe bereik. Dit maak nie saak wat jou suksesstorie behels nie. Elke persoon se storie gaan anders wees, want elke persoon se definisie van sukses verskil. Glo in jouself en in jou droom. Jy kan jou droom verwesenlik en moet nooit toelaat dat iemand vir jou sê jy sal nie suksesvol wees nie. Hou op dink net ander kan sukses behaal. Skryf jou eie suksesstorie. Bladsy vir bladsy; totdat dit ‘n hoofstuk word en later ‘n hele boek en nog later ‘n top-verkoper.

Vorige artikelVertrou die Here en verban vrees
Volgende artikelVerrassend anders
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.