Skud die laaste vetrolletjie af

0
30
eet_gesond.jpg

Jou dieet vorder mooi, maar jy sukkel om daardie laaste vetjies af te skud. Maak só om dit weg te kry.

Begin stadig en beloon jouself met sjokolade

As kaptein van die Spar Protea nasionale netbalspan is dit vir Maryka Holtzhausen belangrik om ’n goeie voorbeeld vir haar span te wees. “Enige mens sal jok as hulle sê hulle eet perfek. Ons eet, want kos is lekker – en dis gewoonlik die lekker kos wat nie so gesond is nie.

“Jou lyf is gewoond aan sekere kosse wat jy nie sommer dadelik moet uitskakel nie; daarom is dit belangrik om met iets te begin waarmee jy kan volhou. Stel vir jouself doelwitte en beloon jouself elke keer as jy ’n doelwit bereik. Los byvoorbeeld brood vir ’n week en beloon jouself met ’n Sweetie Pie as jy dit reggekry het. As jy gedissiplineerd is, sal jy gou nuwe, gesonde gewoontes aanleer.”

Groentee en water hou die hongerpyne in toom

’n Goeie lyf begin in die kombuis, glo Candice Boucher. Dié model, wat met haar lenige lyf al op etlike voorblaaie gepryk het, weet hoe moeilik dit is om oortollige gewig te verloor. “Ek het al gesien hoe moeilik dit is om van daardie laaste paar kilo’s ontslae te raak. Ek probeer om voor ’n fotosessie meer kardiovaskulêre oefeninge te doen, soos om 45 minute lank fiets te ry. Ek doen ook joga minstens twee keer per week om my spiere soepel en lenig te hou.”

Candice pak middagetes soos hoenderslaai in wanneer sy rondreis om binge eating te voorkom. “Groentee en water is ook uitstekend vir jou metabolisme en om die hongerpyne in toom te hou. Ek ontsê myself nie enige kosse nie, want as jy dit eers begin doen, begin jy kul.”

Programmeer jouself om van gesonde kosse te hou

Al is die perderuiter Justine King fyngebou vir haar mededingende sportsoort, moes sy haarself steeds dwing om van sekere kosse te begin hou. “Ek het nooit van spinasie gehou nie, maar ek het myself geprogrammeer om daarvan te hou omdat dit jou sterk maak.

“Ek glo vas jy kan enigiets doen, solank jy jou gedagtes daarop fokus. Mense sê gereeld hulle kan iets nie regkry nie, maar hulle is verkeerd – hulle wíl nie. Jou liggaam sal wel leer om van sekere kosse te hou as jy positief oor gesonde kos dink en besef wat die voedingswaarde daarvan is.”

Eet proteïene vir energie as jy oefen

Die Olimpiese spiesgooier Sunette Viljoen se sport het haar baie selfdissipline geleer, veral wat haar dieet betref. “Daar is geen sin daarin om soos ’n kampioen te oefen, maar soos ’n verloorder te eet nie,” sê sy. Hoë-intensiteitoefeninge soos naellope kan wondere doen om daardie laaste vetjies te verbrand.

Omdat dit ook jou metabolisme versnel, stel sy voor jy neem genoeg proteïene in. “As jy baie energie verbrand, moet jy kos eet wat jou krag gee. My eetprogram fokus meer op proteïene as ander kosse. Weg met die slaptjips, brood en pasta! Ek eet saans vleis en groente saam met ’n bietjie bruinrys of ’n gekookte aartappel.”

Eet ses klein etes vir ’n vinniger metabolisme

Dans kan die prima ballerina van die Johannesburgse Balletgeselskap, Burnise Silvius, tot agt uur ’n dag besig hou. Sy vind dat klein etes dwarsdeur die dag jou metabolisme versnel, wat vinnig onnodige vet verbrand. “Ek eet gewoonlik ses klein etes per dag. Ek sal byvoorbeeld ná my eerste klas peusel aan vrugte of ’n handvol neute, en later in die dag biltong eet.

“My grootste maaltyd is gewoonlik in die aand. As jy regdeur die dag peusel, hou jy jou metabolisme aan die gang. Moenie op die punt kom dat jy rasend honger word en dan na drie snye brood gryp nie. Wees ook versigtig vir stysel: Dit kan jou maklik ‘swaar’ laat voel.”