Skuld: Die Gewas wat jou Welvaart Vernietig

Die statistieke wys dat die oorgrote meerderheid van die krediet-aktiewe Suid-Afrikaners tot 75% van hulle netto salaris skuld aan krediteure.

Kredietkaarte, persoonlike lenings en winkelrekeninge is van die grootste sondaars. Skuld in Suid-Afrika is maklik beskikbaar. Daar gaan selde ‘n dag verby wat jy nie ‘n telefoonoproep of sms kry van ‘n instansie of handelaar wat nog ‘n kredietkaart of ‘n lening aan jou beskikbaar wil stel nie. Die groot probleem is, baie mense val daarvoor.

Skuld het ‘n alledaagse bestanddeel in meeste huishoudings geword. Indien ons of die kinders iets graag wil hê of ons kom nie deur met ons maandelikse inkomste nie; wend ons onsself doodeenvoudig tot skuld. Die algemene reël is dat die terugbetaling van skuld nie meer as 20% van jou netto salaris moet oorskry nie. Beperk skuld tot die twee groot items naamlik ‘n huis en ‘n kar en fokus daarop om dit so gou moontlik af te betaal.

Skuld is soos ‘n gevaarlike gewas wat aan jou welvaart vreet totdat dit jou welvaart uiteindelik heeltemal vernietig. Jy word armer en armer weens die duur rente wat jy op jou skuldlas moet betaal. Skuld weerhou jou daarvan om te spaar en welvaart te skep. Hierdie skuldgewas versprei ook vinnig en maklik. Dit begin by een item wat op skuld gekoop word met een kredietkaart en voor jy jou oë uitvee sit jy met ‘n klomp skuld. Skuld suig jou gou in en dit kos harde werk en dissipline om uit hierdie negatiewe maalkolk te kom. Soos met enige hardnekkige en gevaarlike gewas moet jy seker maak jy vernietig die skuldgewas heeltemal uit jou lewe uit; andersins kom dit terug.

Kweek gesonde finansiële gewoontes aan om seker te maak die gewas kom nie weer te voorskyn nie. Leer om te spaar vir dit wat jy graag wil hê. Met ‘n “Kontant is koning” leefwyse gaan jy verseker van jou skuldgewas onstlae kan raak. Maak seker jy het ‘n begroting en hou daarby. Bou ‘n noodfonds op wat jou sal help as daar onvoorsiene dinge gebeur en sal verhoed dat jy jou tot skuld moet wend.

Vorige artikelSwaar dra … met grasie!
Volgende artikelHerfs
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.