Skuldgevoel

Prioriteite is faktore in jou lewe waarvan jy eers weet wanneer hulle verkeerd ingespan is.

Dis een van die skuldig-voel-items – byna soos gesondheid – wat jy weet aandag verdien. Maar wanneer die lewe eers met jou op loop gaan, skuif jy dit eenkant – “vir wanneer jy tyd het.” Ja, ja, jy weet jy behoort te gaan sit en jou lysie te maak – tyd te maak vir stiltetyd in die oggend, tyd vir oefen of gaan stap, tyd met jou geliefdes, tyd vir jouself.

Maar tyd loop op sy eie wiele en laat hom nie inspan wanneer jy lushet nie. Tot daar ‘n krisis is – dan is daar skielik tyd. Vir mense en dinge en alles wat regtig saak maak.

Toentertyd het ek ‘n Tydbestuurskursus bygewoon. My werkgewer het gesê ek moet. En ek was laat vir die ding. Want ek het heeltemal te veel hooi op my vurk gehad, tóé al. Ek het gesukkel om te byt aan die aanbieder se reseppie: Maak vir jou afgesonderde tyd vir jou e-posse en foonoproepe, het die man gesê. En ek het gewonder hoe op aarde ek my deur sou kon dig hou vir dié twee ure.

Later, toe ek my Kragtige Rooi Temperament leer ken het, het die tyd-ding homself uitgesorteer, ondanks hewige inmenging van my Prettige Geel Temperament wat tog so lief is vir chaos. Maar die probleem is, dat my dag hopeloos te min ure inhet.

Toe ek die week se take in tyd omgesit het, het ek 250 ure getel. En my week het, soos almal s’n, net 168 ure. En êrens moet ‘n mens geslaap en geëet kry, gebad en ge-gym kry vir jou gesondheid en behoud.

Ek het geleer dat daar een tyd van die dag is wat ek nooit, ooit moet afskeep nie – dis nou as ek met die dag met vrede wil ingaan: my soggens se stiltetyd. Dis wanneer ek tyd maak vir God om met my te praat. En dis hier waar Hy my rus gee – ook in my kop. Wanneer die malende gedagtes van alles wat ek moet doen en dalk mag vergeet, my begin roer, kry die Heilige Gees dit reg om my stil te kry – al is dit net vir die uur. Wanneer ek kan nadink wat Hy sou sê en wat Hy sou doen en nie my eie selfsugtige belange eerste stel nie.

Ek maak nie meer prioriteitslysies nie, want ek het eenvoudig nie tyd daarvoor nie. En dit maak my op my senuwees  as ek dink aan alles wat ek sou wou doen.

Onder die stort, ja, of wanneer ek ‘n skuimbad kan tap en net afskakel – dis wanneer ek begin dink aan my prioriteite. Sodra die doen-dinge en verpligtinge in ‘n ry is, dink ek aan vriende en geliefdes wat vir my belangrik is. Vir sommiges bid ek, ander bel ek, en as daar ‘n plekkie is, maak ek ‘n gaatjie vir ‘n lag-kuier wat goed is vir die siel.

Vorige artikelTyd vir gesels met jou kind
Volgende artikelVind hoop in eenvoud hierdie lente!
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.