Skuldige Plesiertjies…

Daardie ietsie waarna ons soms so smag…

Net ‘n bietjie tyd vir jouself, daardie groot blok sjokolade wat in die kas lê en loer, ure in ‘n warm skuimbad lê. ‘n Hele dag voor ‘n vierkantige skerm met een episode na die ander van jou gunsteling “series” lê en kyk…

So ruk gelede was ek totaal en al uitgeput, te veel projekte en net te min tyd om by alles te kon uitkom. “Sodra ek klaar is met hierdie projek, gaan ek myself vir twee weke op hierdie rusbank parkeer en net “Greys” kyk” het ek aangekondig. Richard het net geglimlag, hy ken my te goed. Hy het geweet skuldgevoelens sou die beterhand van my kry.

Skuldige plesiertjies, soms wonder ek wie met hierdie sê-ding vorendag gekom het. Hoekom voel ons so skuldig as ons bietjie tyd vir onsself afknyp? Jy kan nie skink uit ‘n leë beker nie. Jy kan nie liefhê as jy nie eens weet hoe om na jouself te kyk nie.

Die lewe is nie ‘n 100-meter vinnige wedloop om die resiesbaan nie, dit is ‘n reis wat nie in een dag voltooi kan word nie. Wat jy elke dag konstant insit, is wat sal lei tot môre se sukses.

Begin vandag om goed te wees vir jouself, lief te wees vir die persoon wat na God se beeld geskape is. Eet vandag een blokkie sjokolade, neem tien minute vir jouself, kyk een episode van jou gunsteling televisieprogram. ‘n Paar minute van selfsorg, elke dag, kan jou hele dag ophelder.

Die lewe is kort en die dag van môre word aan niemand belowe nie. Vandag is ‘n geskenk, geniet dit, vier die klein oorwinnings en wees goed vir jouself…  Jy is meer kosbaar as korale en meer werd as pêrels….