Skuldvry in 6 jaar

Ek vra gereeld tydens my finansiële praatjies ‘wat beteken finansiële vryheid vir jou?’

‘Om skuldvry te leef’ is die algemene antwoord. Skuld en oormatige skuld is steeds die grootste finansiële bekommernis wat meeste mense se stresvlakke opjaag. Statistieke wys dat 19 miljoen Suid-Afrikaners skuld het en R11 miljoen het te veel skuld. Skakel die syfers om en dit wys dat 30% van alle Suid-Afrikaners te veel skuld het. Gegewe die statistieke en mense se algemene respons word dit duidelik dat skuld ‘n universiële bekommernis is vir baie mense.

My ouers het ‘n ‘kontant is koning’ sienswyse gehad. Ek het grootgeword met die wete dat ons nie iets kan kry indien ons nie kontant daarvoor kan betaal nie. Dit was waarskynlik die mees waardevolle les wat my ouers my kon leer, want toe ek geld begin verdien het, het ek die beginsel getrou toegepas. Ek het gespaar om my eerste kar kontant te koop en die tweede een en die derde een… Die feit dat ek my eerste kar kontant kon koop het verseker grootliks daartoe bygedra dat ek ook die volgende een kontant kon koop.

Toe ek vir ‘n huislening moes aansoek doen, was dit ‘n skrikwekkende gedagte. Genadiglik het ek geld gespaar vir ‘n groot deposito en ek kon al my meubels en toerusting kontant koop, maar die blote gedagte om nou skuld te hê, het my baie ongemaklik laat voel. Boonop het ek my eerste huis in 2008 gekoop toe die resessie baie mense se bootjies laat sink het. Ek het net een doel voor oë gehad: om so gou moontlik van my skuld ontslae te raak.

Ek het onder andere hierdie drie beginsels toegepas:

  • Ek het my maandelikse debietorder geteken vir ‘n bedrag hoër as wat die minimum paaiement was. Sodoende het ek gewoond geraak daaraan om hoër paaiemente te betaal en bonop was die addisionele bedrag aangewend om my kapitaalbalans vinniger af te los.
  • Die geld wat ek oorgehad het aan die einde van elke maand, het ek ook oorgedra na my lening en dit het gehelp om my kapitaalbalans nog vinniger te verminder.
  • Ek het ook die oorgrote meerderheid van enige ander addisionele geld soos ‘n bonus of ‘n terugbetaling van SARS oorgeplaas na my lening. Die kapitaalbalans het vinniger en vinniger verminder…

… 6 jaar later was ek skuldvry en het my eerste eiendom besit. Dit was ‘n reuse verligting asook ‘n prestasie vir my. Ek was skuldvry in my vroeë dertigs. Wanneer ek soms in die versoeking kom om iets op skuld te koop, vra ek myself altyd af: ‘wil jy armer word deur rente te betaal en in die proses die bankbestuurder ryker maak?’ My antwoord is altyd ‘n ferm: ‘Nee definitief nie!’ Dit is hoe ek seker maak ek kan skuldvry bly.

Gedurende die volgende 10 weke gaan ek die 10 grootste finansiële bekommernisse van baie Suid-Afrikaners in meer detail bespreek. Volg my Finesse voelgoed blogs en teken gratis in op my YouTube kanaal vir nog waardevolle finansiële raad:

https://www.youtube.com/channel/UCNxhoBjk_oaiB1td0u0A8ow

 

Vorige artikelDie einde van seisoen uitverkoping
Volgende artikelJy is jy. Ek is ek. En dit is goed!
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.