Slaptjip word sterk

“I don’t think you are tough enough to make me obey” Uit: The strong-willed child – Dr James Dobson.

Dis nie ‘n opvoedingsfout iewers tussen baba en tienerskap nie.

Waar ander mense die spreekwoordelike orrelpypies het, het ek een staalpyp gekry.

My dierbare kind is gebore met ‘n willetjie wat ter wille van haar eie willetjie, hardkoppig sou wees.

As jy ‘n sterk-willetjie kind het, sal jy weet waarvan ek praat. Al van baba dae af wys hul dat hul nie ingee mentaliteit het nie. Die normale kleuter-vloergooi was nie in my kind se repertoire nie. Nee, sy het net botstil gaan staan en geweier om te beweeg. Die rots van Gibraltar was ‘n vulletjie teen haar willetjie.

Dus, ons wedersydse uitdaging was: Uithouvermoë. Wie gaan eerste ingee?

As ma, het ek soos ‘n slaptjip gevoel. Ons het gereeld vasgesit oor eenvoudige goed. Vir haar was dit net ‘n fight wat gewen moes word. Ten alle koste. Waterloo het na ‘n sleelparkie gelyk.

Ek moes baklei vir moederlike respek en aansien. Letterlik! Daar was uitdagende oomblikke en ‘hoe nou?’ vraagstukke gewees. Doemprofete het soos skadus oor my kom hang in die vorm van selftwyfel en selfverwyt. “… it is very common for these moms and dads to feel guilt and self-condemnation” Dr J. Dobson. Want, hoekom is ander ouers so in beheer en jy voel so uit beheer?

Na baie alleen oomblikke van wonder oor wat ek verkeerd doen, het ek uiteindelik besef ek moes haar temperament leer verstaan.

Ek het nie geweet dat ‘n mens se swakheid jou krag kon word nie. Dit was ‘n leerproses. In die proses het ek baie tyd op my knieë deurgebring en boeke gelees. Die antwoorde was nie van die begin af daar nie.

Ek moes besef dat ‘n kind soos myne nie respek het vir ‘n ‘swak’ ouer het nie. Tipies, moet jy hul respek verdien. Dis hoe hul aanmekaar geweef is en nie ‘n opvoedingsfout iewers tussen baba en tienerskap nie. Mens leer om dit te hanteer, sou jy dit nie reeds van nature weet nie.

Op jou knieë gebeur wonderlike dinge. Klein skietgebedjies tref met krag. Lang smeekgebede word ’n uitgestrekte antwoord van vetroue en ontsag vir Sy heerlikheid. En dag vir dag het slaptjip mamma haarself weer gevind.

Die grootste geskenk was om te weet dat God haar spesifiek gemaak het met haar temperament. Hy het ‘n plan met haar, soos beslis met alle mense. Hy het haar nie uit Sy hande laat val nie, al was daar dae wat ek nie die uitkoms kon sien nie.

Vandag sien ek ‘n sterk kind, met ‘n visie en ‘n helder lig in haar. Ek besef ek het nie die oorlog gevoer nie. God het. Ek is net gedra deur die oorlog.

Moet nooit twyfel in die krag van gebed en God se almagtige liefde nie. Wat jou situasie ook al is, hou aan bid, hou aan glo en hou aan om God te verheerlik.

Ek besef dat daar nog ‘n paar interessante oomblikke vir ons wag in die toekoms. Maar, ek voel nie meer soos ‘n slaptjip nie, want wie kan nou ‘n slaptjip wees met ‘n God geskape sterk kind onder jou dak en ons almagtige Vader by ons?