Slegte gewoontes wat jou vet hou

0
62
verloor_gewig.jpg

Dit is soms die onskuldigste gewoontetjies soos om laatnag te eet wat jou dieet saboteer. Só kan jy dit verander.

As jy al ooit met jou gewig gesukkel het, sal jy goed weet dat die kos eintlik net ’n deeltjie is van ’n baie groter, ingewikkelder probleem. In ’n studie met meer as 5 000 mense het Amerikaanse navorsers eetgewoontes geïdentifiseer wat sterk gekoppel is aan ooreet, oorgewig en vetsug.

Jy tob voortdurend oor wat jy eet

Elke dag is ’n stryd, ’n obsessiewe kilojoule-tellery. Jy weeg jouself té gereeld.Jy maak heeldag somme in jou kop oor hoeveel jy al geëet het en wat jy vandag nog mag eet. Kos beheer jou, in plaas van andersom.

VERANDER SÓ
Neem beheer. Om gesond te eet, het niks te doen met wilskrag nie. Dit het eerder te doen met goeie beplanning en motivering. Werk ’n verstandige laevet-eetplan uit wat goeie porsiebeheer insluit. Beplan jou week se spyskaarte en versnaperings vooruit. Bestel jou inkopies aanlyn of maak ’n inkopielys en hou daarby. Moenie kos koop wat jou in die versoeking kan bring nie. Gebruik eerder jou tyd en energie om oefening te kry as om te tob oor kos en wat jy eet.

Jy eet op ʼn drafstap

Wanneer jy mense uitvra oor hul onvergeetlikste ete ooit, sal hulle jou nooit vertel van die toebroodjie wat hulle in die verkeer verslind het nie. Óf die wegneemkos wat hulle voor die rekenaar verorber het nie. Die spesiaalste etes is altyd saam met ander mense. As jy voortdurend eet terwyl jy loop, skaars raaksien wat jy eet en selde ’n maaltyd met ander deel, gaan jy nooit regtig tevrede of versadig voel nie. Jy gaan net meer en meer wil eet.

VERANDER SÓ
Gee jou maaltye en jou eetomgewing jou onverdeelde aandag. Staan 10 minute vroeër op en sit aan die ontbyttafel saam met jou gesin eerder as om ’n snytjie roosterbrood te gryp op pad by die deur uit. Gaan eerder uit die kantoor uit vir middagete as om by jou lessenaar te peusel. Geniet lang, lui maaltye saam met familie en vriende oor naweke. Moenie aan eet as tydmors dink nie. Leer om oor jou kos te talm. Sit jou vurk neer tussen happies en geniet die verskillende geure en teksture van jou kos.Neem jou tyd. Dit stel jou liggaam in staat om die boodskap na jou brein te stuur dat jy genoeg geëet het. Jy is ’n bewustelose eter Dis ’n algemene klagte van vroue wat ooreet: “Ek eet te veel, maar ek weet meestal nie eers wat ek eet nie. Ek stop enigiets in my mond.” Jy kom by die huis van die werk af, gaan reguit kombuis toe en maak die yskas oop. Of jy gryp ’n pakkie koekies, sit die televisie aan en teen die tyd wat die program verby is, het die koekies ook gesneuwel. Dis hoogs waarskynlik dat jy nie eers sal onthou dat jy al die koekies geëet het nie.

VERANDER SÓ
Deur ’n eenvoudige kosdagboek te hou, sal jy bewus word van hoeveel kilojoules jy werklik inneem. Die volgende stap is nou om jou onbewuste gedrag te verander in volle bewustheid sodat jy kan begin om positiewe keuses te maak oor óf jy wil eet en wát jy wil eet. Afleiding is die oplossing vir hierdie probleem. In plaas daarvan om die yskas oop te maak wanneer jy by die huis kom, neem eerder die hond vir ’n stappie. As jy regtig iets wil eet, haal twee koekies uit die pakkie of sit vir jou ’n klein porsie skyfies in ’n bakkie. Verseël die res en pak dit ver weg.

Jou kos is belaai met betekenis

Vir jou is kos altyd goed óf sleg, aanvaarbaar óf verbode. Jy is dus voortdurend in ’n stryd gewikkel om jou drang na “verbode” kosse te beheer. Jy voel gekul as jy nie die “slegte” kosse mag eet nie en as jy dit eet, oorval die skuldgevoelens jou.

VERANDER SÓ
Die oomblik wanneer sekere kosse verbied word, hunker ’n mens outomaties meer daarna. Dis ’n natuurlike sielkundige reaksie. Daar bestaan nie so iets soos “goeie” of “slegte” kosse nie, maar daar is wel kosse wat jou makliker gewig laat aansit. Hou maar op om jouself te verbied om kosse te eet wat jy regtig baie geniet en wees eerder versigtig met hoe gereeld en hoeveel jy daarvan eet. Goeie beplanning speel ’n baie belangrike rol in hierdie proses. as jy doodeenvoudig nie sonder sjokolade kan klaarkom nie, koop ’n klein stafie baie lekker sjokolade. op hierdie manier kom jy nie in die versoeking om jou aan die sjokolade te ooreet nie en geniet jy elke happie.