Slim en wys is nie dieselfde nie

0
11
Tim_Hunt.jpg

Professor Tim Hunt is ‘n wetenskaplike en ‘n Nobelpryswenner.  Vandeesweek was hy by ‘n Wêreldkongres in Suid-Korea waar hy gesê het dat vroue nie in laboratoriums tuishoort nie.

Professor Tim Hunt is ‘n wetenskaplike en ‘n Nobelpryswenner.  Vandeesweek was hy by ‘n Wêreldkongres in Suid-Korea waar hy gesê het dat vroue nie in laboratoriums tuishoort nie. 

Hy het gesê vroue wat in laboratoriums werk, skep drie soorte probleme.  In die eerste plek raak hulle verlief op jou as wetenskaplike, of jy raak verlief op hulle, en in die derde plek huil vroue wanneer jy hulle kritiseer. Dit het ‘n storm ontketen in die sosiale media.  Hunt het dus nou ook as professor aan die University College London bedank. Dit is baie duidelik dat hierdie slim professor nog by stokou  vooroordele vassteek. Sy opmerking spreek nie van wysheid nie. Dit wys maar net weer vir my dat daar ‘n groot verskil is tussen “slim wees” en “wys wees”. ‘n Hoë IK beteken nie noodwendig sukses in die lewe nie.  ‘n Mens kort ook emosionele intelligensie, sosiale intelligensie en nog ‘n klomp ander soorte vaardighede.

Het jy al opgemerk met hoeveel gemak en grasie Jesus met vroue omgegaan het? Dink maar aan die Samaritaanse vrou by die put, of dink aan die vrou wat sy voete met haar trane natgemaak het en met haar hare afgedroog het, of dink aan die vrou wat in owerspel betrap is en na hom gebring is, en so kan ek aangaan. Dit is merkwaardig veral as ʼn mens in ag neem dat hierdie verhale afspeel in ʼn patriargale wêreld.

Dit maak nie saak wie of wat jy is nie, behandel alle mense met respek en as jou gelyke, ongeag geslag of ras of sosiale stand. Wees wys en kyk op niemand neer nie!