Slim swieties

Ek snuffel nou die dag deur my laaie en kom op ‘n pakkie lekkergoed af: ‘n klein boksie Smarties.

Ek gooi die veelkleurige sondetjies op my handpalm uit en is verbaas oor die kleure, of eintlik oor die gebrek daaraan. Ek eet dit nie gereeld nie, en die laaste keer dat ek dit wél geëet het, onthou ek, was in die fliek – ek het dit dus net geproe, en nie bekyk nie. Die blink kleure wat ek onthou, is weg, en in die plek daarvan is dowwe, amper vaal, matterige kleure. Ek besef dadelik dat dit hoogs waarskynlik iets te doen het met preserveermiddels, en dat dit seker ‘n goeie ding is. Ek onthou ook die taai, besmeerde handjies van my twee meisiekinders toe hulle klein was en nie kon verstaan dat mens dié lekkertjies net so een-een uit die pakkie moet haal nie. Hierdie “nuwe” kleure gaan dalk minder mors, en minder taai wees.

Nadat ek die eerste lekkertjie se buitelagie afgesuig en die soet binnekant geproe het, besef ek: nee wat, dit proe maar dieselfde. En dit tref my dat hierdie Smarties, net soos hulle naam sê, eintlik ‘n slim les inhou: die buitekant is nie belangrik nie – die blink lagie is regtig maar net oppervlakkig, veroorsaak gewoonlik ‘n gemors, is nie goed vir jou nie en kom so maklik af. Buitendien, of dit nou tyd, ouderdom, swaarkry of afwesigheid van preserveermiddels (of grimering, of botox, of wat ookal) is wat die blink laat verdof het, dit maak nie saak nie! Dis die hart wat tel.

Vorige artikelOp Soek Na Skoonheid Wat Duur
Volgende artikelOnthou om te onthou
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com