Slimmer maniere om jou hoofpyn te klop

0
559
hoofpyn.png

Wag eers voordat jy na die pakkie pynstillers gryp – ’n pil is nie altyd jou beste opsie nie. Daar is natuurlike oplossings waarmee jy jou pyn kan behandel.

Wag eers voordat jy na die pakkie pynstillers gryp – ’n pil is nie altyd jou beste opsie nie. Daar is natuurlike oplossings waarmee jy jou pyn kan behandel.

’n Kloppende hoofpyn kan jou hele lewe laat stilstaan, of jy nou by die werk, by die huis of op vakansie is. Pille help soms, maar dikwels maak daardie hoofpyn later weer sy opwagting. Gelukkig is daar nuwe maniere om daarvan ontslae te raak, as jy kan vasstel wat presies die oorsaak is.

1. Het jy wakker geword met die pyn?

DIE PROBLEEM: Jy klem dalk jou kakebeen of byt op jou tande terwyl jy slaap. Dit veroorsaak pyn in die spiere rondom die deel in jou mond wat jou kakebeen met jou skedel verbind. Daardie pyn versprei dikwels na jou slape. As jy ure lank kougom kou, kan dit dieselfde effek hê.
DIE OPLOSSING: Doop ’n handdoek in warm water of gebruik ’n warmwatersak. Sit dit op jou kakebeen vir 15 minute lank. Herhaal dit verskeie kere deur die dag. Dit help stywe spiere om te ontspan. Jou tandarts sal weet as jy gereeld op jou tande kners. Dis moeilik om jouself te leer om op te hou, en dan is die beste oplossing dalk ’n mondskerm.

2. Het jy van jou oggendkoffie vergeet?

DIE PROBLEEM: As jy elke oggend koffie drink en dit een dag oorslaan, kan jy aan kafeïenverwante onttrekkingsimptome ly. Dit is omdat die bloedvate in jou brein gewoond raak aan die vernouing wat kafeïen veroorsaak. Die skielike onttrekking laat die bloed in oormaat deur jou bloedvate vloei. Om dit te beheer, swel hulle op, wat tot die hoofpyn lei.
DIE OPLOSSING: Drink ’n sterk koppie koffie en jy behoort binne ’n uur beter te voel. In die toekoms, drink dieselfde hoeveelheid koffie elke oggend. As jy probeer ophou, verminder jou inname oor ’n tydperk van ’n paar weke.

3. Het jy middagete oorgeslaan?

DIE PROBLEEM: Jy het waarskynlik lae bloedsuiker. Dit ontneem jou brein die glukose wat dit nodig het om te funksioneer.
DIE OPLOSSING: Eet iets wat proteïene bevat – nié suiker nie. Verfynde koolhidrate, soos koekies en sjokolade, jaag jou bloedsuiker op en laat dit kort daarna weer drasties daal. Dit sal sonder twyfel jou hoofpyn terugbring of vererger. Probeer om in die toekoms minstens elke twee tot drie uur iets kleins te eet. Maak seker jy eet kosse wat jou bloedsuiker konstant hou, soos jogurt, eiers of neute. ’n Magnesiumaanvulling kan ook help; daar is bewys dat ’n tekort aan hierdie mineraal ’n rol kan speel in migraine. Vroue oor 30 moet 320 mg per dag daarvan inneem.

Soms is ’n pynpil die enigste uitweg

Jy moet weet hoe om dit veilig te gebruik. Die rakke vol hoofpynpille in apteke kan oorweldigend wees. Hierdie pille val in twee kategorieë, naamlik parasetamol en nie-steroïede anti-inflammatoriese middels (NSAID’s).

Parasetamol: Dit is in meer as 600 produkte beskikbaar, so, maak seker jy lees die etiket. As jy gereeld pille drink, gebruik hierdie versigtig – jy loop die risiko om akute lewerversaking te ontwikkel, veral as jy gereeld alkohol drink. Die maksimum dosis wat jy per dag mag inneem, is 3 000 mg. Dit is gelyk aan ses ekstra-sterkte pille.

NSAID’s: Ibuprofeen, Celebrex en aspirien kan maagkwale of sere veroorsaak, veral as jy meer as drie alkoholiese drankies ’n dag drink. Hoë dosisse ibuprofeen (sowat 1 200 mg per dag) kan jou risiko vir hartaanvalle en beroerte verhoog.

Bronne: Dr. Oz The Good Life, www.orthoinfo.aaos.org