Smag na melk

My Pa het met onder meer skape geboer. Tydens lamtyd was daar maar altyd enkele ooie wat tweeling lammers gehad het, of selfs drielinge.

Sommige ooie kon egter nie die addisionele lammertjies voed nie en dan moes daardie lammertjies in ‘n kampie by die huis geplaas word. Sodoende kon ons hulle soggens en saans met ‘n bottel melk gee.

Die hanslammertjies het gou baie mak geword en ons in hulle vertroue geneem. Vir ons neefs en niggies uit die stad was dit soveel meer opwindend om die hanslammers melk te gee. Sodra die hanslammers jou gewaar het, het die sterte al begin wikkel van opgewondenheid want hulle het geweet hulle melk is oppad. Gewoonlik was daar een of twee lammertjies wat hulle bottels vinniger as die ander opgedrink het. Dan moes jy net keer dat hulle nie die ander se bottels oorvat nie.

Dit moet omtrent wees wat Petrus in 1 Petrus 2:2 in gedagte gehad het toe hy gesê het dat ons, soos wat pasgebore babas smag na melk, moet smag na die suiwer geestelike melk.  ‘n Opgewondenheid om elke dag nog geestelike melk te kan inneem. ‘n Begeerte om te kan groei. As jy reeds ‘n baba gehad het sal jy weet dat ‘n baba jou baie gou gaan herinner as hy/sy nie klokslag gevoed word nie. Jy hoef net na die horlosie te kyk om te besef hoekom hy/sy so huil. Ons kinders wou ook niks van bottelmelk weet nie. Hulle was net met suiwer melk tevrede.

Hoe is dit dan dat ons soms tevrede is met geestelike krummels wat nie tot ons geestelike groei bydra nie?  Ons kan nie ons geestelike groei net in die hande van die Pastoor/Dominee oorlaat om dus net Sondae kos te kry nie. Daar moet ‘n daaglikse dors wees. Daagliks tyd maak om nader aan God te kom in gebed en Sy Woord. Self verantwoordelikheid neem vir ons groei en seker te maak dat ons elke dag ons melk inkry om sterk Christene te kan wees. Nie net ter wille van ons self nie, maar ook sodat ons ander kan help voed.