So bly ons intiem gelukkig

0
2029

ZETSKE en ALTUS THEART is een van ons gunstelingglanspaartjies. Al lyk dit asof hulle intimiteit uitstraal, weet hulle dat dit harde werk verg.

Die handhawing van ’n intieme verhouding met jou lewensmaat is ’n saak waarmee egpare dikwels sukkel, veral as daar eers kinders is. Ná die geboorte van klein Alexander moes Altus en Zetske eers weer hulle ritme vind, maar hulle het gou besef dat dit belangrik is om tyd te maak vir intiemwees ten spyte van die uitdagings.

“Dit is ’n uiters belangrike element van ’n verhouding. Om jou liggaam en siel met iemand te deel is die sleutel tot ’n suksesvolle huwelik. Dit is natuurlik makliker as dit net jy en jou man is. Vir my en Altus het intimiteit ook na onderaan die lys geskuif toe Alexander gebore is, want skielik was daar nog iemand om aan te dink. Ons aandag was verdeeld en ons prioriteite het oornag verander. Dan was daar die moegheid wat ons in daardie eerste paar maande oorval het.”

Dan kom ouers maklik in die gewoonte om saans net te wil slaap. “Ons het self in die aand net in die bed geklim om te slaap. Die slaapkamer moet egter jou en jou man se persoonlike ruimte wees waar julle alles met mekaar kan deel. Dit is oukei om moeg te wees en soms net te wil slaap, maar neem die besluit om gereeld intiem te verkeer.”

’n Ander faktor wat ook ’n groot sondaar is, is stres – iets wat ook in die vermaaklikheidsbedryf voorkom en wat die Thearts alte goed ken. “Wanneer ons druk ervaar, is romantiese aandjies die laaste ding waaraan ons dink. Dit is asof jy dan net op die dag-tot-dag-oorlewing fokus. Daarom neem ons amper daagliks die besluit om tyd te maak vir onsself. Ja, kinders verg baie van jou aandag, maar dit is belangrik om nie jou maat af te skeep nie.”

Zetske meen ook dat ouers daarteen moet waak om kinders saam met hulle in die bed te laat slaap. “Dit maak ’n lekker stoute aandjie saam met manlief heeltemal onmoontlik. Ons het Alexander vroeg al in sy eie kamer laat slaap. Dit was moeilik aan die begin, maar ons is nou baie dankbaar vir daardie besluit.”

“Intimiteit is ook baie meer as net seks. Dit is ook emosioneel van aard en sluit die klein dingetjies in wat jy deur die loop van die dag vir jou maat sê en doen,” sê Altus. “Daar is niks fout daarmee om tyd te maak vir intimiteit nie. Dit is nie noodwendig iets wat altyd spontaan hoef te gebeur nie. Daar is baie dinge wat jy kan doen om jou maat spesiaal te laat voel, maar dit is ’n doelbewuste besluit wat jy elke dag moet neem.”

Elke huwelik en paartjie is uniek; wat vir een werk, werk dalk nie vir ander nie. Altus en Zetske het nie die wenresep vir intiemwees nie, maar weet wel dat dit harde werk verg en dat oop en eerlike kommunikasie met mekaar beslis een van die bestanddele is. “Jy moet veilig voel by jou man of vrou en gemaklik wees om jou hart, begeertes, vrese en drome met hom of haar te deel. Maak tyd vir mekaar, skryf dit in jou dagboek as jy moet of sit ’n reminder op jou foon, maar maak tyd vir intimiteit.”