Só het Cordelia haar biologiese ma vergewe

0
9
Cordelia

Dit lyk miskien nie so nie, maar op dertig het Cordelia baie meer moeilike situasies oorleef as wat ander in ’n leeftyd doen. Haar resep vir survival? Vergewe en kry altyd iets om voor dankbaar te wees.

Dit lyk miskien nie so nie, maar op dertig het Cordelia baie meer moeilike situasies oorleef as wat ander in ’n leeftyd doen. Haar resep vir survival? Vergewe en kry altyd iets om voor dankbaar te wees.

Jy sing die land aan die brand, maar min mense ken regtig jou storie. Deel bietjie jou hart met ons.

As ek my storie in twee woorde moet saamvat, sal dit “vergifnis” en “dankbaarheid” wees. Dit klink miskien sentimenteel, maar dit is hoe ek teleurstellings en verliese te bowe gekom het.

Dit is darem lekker om ’n kind te wees. Om geen sorge te hê nie behalwe om met jou boetie en sussie te speel. Nie een keer het ek eers gewonder oor my sussie wat net drie maande ouer as ek is nie. Wat weet ’n kleuter ook nou van hoe die lewe werk? Ons was mekaar se sussies en klaar.

Tot op die dag dat ons ouers ons almal bymekaar geroep het.

“Julle kom nie uit my maag nie,” het my ma gesê, “maar sommer direk van Liewe Jesus.”

Ek was ’n bietjie verward, maar in my sesjarige verstand het ek in my eie oë superheldstatus gekry. Ek het my maatjies die volgende dag by die kleuterskool net vertel van al die super powers wat ek en my aangenome sussie het omdat ons sommer direk van Jesus af kom.

Eers ses jaar later het die volle betekenis van my ouers se woorde my getref. Dit was my verjaarsdag. Ek was twaalf jaar oud. Omring met geskenke wat my gesin daardie oggend vir my gebring het, het ek skielik in trane uitgebars. Vir die eerste keer het ek vrae oor my herkoms gehad: Wie is ek? Wie is my regte mamma? Hoekom wou sy my nie hê nie?

Ek was die hele dag omgekrap tot ek daardie aand vir die eerste keer ’n besef van vergifnis ervaar het. Ek het nie gevra daarvoor nie, ook nie gebid daaroor nie. In Sy groot genade het God dit net oor my laat kom lê. Die volgende oggend het ek na my ma-hulle gegaan en vir hulle vertel dat ek baie lief is vir hulle, maar dat ek my regte mamma wil ontmoet sodat ek vir haar dankie kan sê en vertel dat ek haar vergewe het.

“Maar jy hoef haar nie te vergewe nie,” het my pa gekeer.

“Maar ek wil. En ek wil vir haar dankie sê,” het ek volgehou.

“Waarvoor wil jy vir haar dankie sê?” wou my ma weet.

“Sommer net omdat sy vir my ’n lewe gegee het. As ek nie gebore was nie, sou ek julle nooit geken het nie.”

Na ’n lang soektog het jy toe jou biologiese ma opgespoor. Wat onthou jy van daardie dag en julle ontmoeting?

Dit het my ses jaar geneem om haar te kry. My aanneem-ma het dit so goed hanteer. Ons het die soektog begin by ’n briefie wat sy vir my gelos het waarin sy sê sy is jammer dat sy nie so goed vir my kan sorg soos my aanneemouers nie. Toe ek die dag ry om my biologiese ma te ontmoet, het my aanneem-ma vir my ’n kospakkie ingesit met ’n briefie: “Sussa, niks sal die band wat ek en jy het, ooit kan wegvat nie,” het sy geskryf.

Ek is op ses maande aangeneem. My naam was Tersia. Toe ek en my ma mekaar sien, het ons gehuil en mekaar vasgedruk. Ek wou net hê sy moes weet dat ek haar vergewe het en dat ek dankbaar is dat sy my lewe gegee het.

Ons sien mekaar deesdae nie so gereeld nie. Sy gaan aan met haar lewe en ek met myne. Eendag gebeur dit miskien dat ons meer kontak gaan hê.

Die dankbaarheid wat ek uit dié situasie kon kry, is dat ek ’n biologiese boetie en sussie ontdek het van wie ek nie eers bewus was nie. My jonger sussie se naam is Anette en sy, asook my aanneemsussie, is vandag my beste vriendinne.

Van ons drie kinders was ek die enigste een wat opgegee is vir aanneming. Dit het my ’n lang ruk gepla: Hoekom ek? Hoekom het sy my boetie en sussie gehou, maar vir my weggegee? Was ek nie goed genoeg nie?

Nou weet ek daar was ’n doel in alles. Ek sou andersins nooit die kanse gehad het wat my aanneemouers vir my gegee het nie. Die lewe moes maar net so gewerk het.

Ek was die enigste van ons drie kinders wat haar biologiese ouers wou opspoor, maar dit was van kleins af so. Ek het altyd meer vrae gevra en uitdagings aangepak; in my tienerjare rebels gewees. My aanneemboetie en -sussie verskil baie van my. Hulle is rustig en vol vrede en het nooit die begeerte gehad om hulle ouers te ontmoet nie. Hulle gevoel is dat hulle ouers hulle nie wou hê nie en daarom wil hulle niks met hulle te doen hê nie.

Maar dinge is ook nie so eenvoudig nie. Om ’n kind weg te gee vir aanneming is ’n bitter moeilike besluit wat ’n ma moet neem. Dikwels sit hulle vir die res van hulle lewe met ’n skuldgevoel waarvan hulle nooit ontslae raak nie.

Uit jou Facebook-bladsy is dit duidelik dat jy ’n intieme verhouding met God het. Tog sing jy nie gospel nie?

Ek sing darem nie niks gospel nie. Trouens, my eerste opgeneemde liedjie was die temalied van die film Hartsbegeertes. Soos alles in my lewe, was hierdie ook ’n wonderwerk. Die vervaardiger van die fliek het van my geweet en my gekontak om te hoor of ek nie wil probeer om ’n lied vir die film te skryf nie.

Hy wou hê dit moes ’n geestelike inslag hê en alhoewel ek nie toe gospel geskryf het nie, het ek dit gewaag. Op pad huis toe het ek met die woord “hartsbegeertes” begin speel. Dit is vir my so ’n pragtige woord en eintlik is dit net God wat die diep begeertes van Sy kinders ken. Ek het die Here gevra om vir my woorde en ’n wysie vir hierdie fliek te gee as dit Sy wil is.

Die volgende oggend het ek ’n deuntjie in my kop gehad, dit gaan opneem en toe aan die filmvervaardigers gestuur. Deur die dag kry ek ’n oproep van hulle om te verneem of ek die draaiboek voor die tyd gelees het. Ek het nie en tog het die liedjie perfek gepas.

Dit was ’n groot deurbraak: My liedjie die temalied van ’n Afrikaanse fliek.

’n Gospelalbum is beslis iets wat kan kom, maar ek glo ek beteken tog ook iets deur die liedjies wat ek skryf. Ek is ’n vrou en ek skryf oor goed wat vroue raak. Ek skryf oor die liefde. “Is jy mal in jou kop?”, my eerste treffer, gaan juis oor iemand wat nie kan aanvaar dat ’n man haar nie meer liefhet nie.

Vir die huidige is ek net verstom oor die gewildheid van my musiek terwyl ek nog nie eers ’n album uitgereik het nie. Daar is so baie mense wat my ondersteun dat dit my eintlik hartseer maak. My musiekvideo’s is baie gewild en ek het ook al op Pieter Koen se Jukebox verskyn – ’n eer wat nie baie nuwe kunstenaars te beurt val nie.

Dit alles is vir my ’n teken dat ek my op die regte plek in my lewe bevind. Ek het probeer om ’n onderwyseres te word, maar wou nog altyd sing. Ek was van kleins af hierdie uitgesproke kind wat wou sing en gelukkig het ek by my aanneemouers die ondersteuning gekry om dit my loopbaan te kan maak.

Die Here het vir my ongelooflike kanse gegee. Hiervoor is ek oneindig dankbaar.

Jy het ’n besonder sagte plekkie vir kinders, veral wees- en pleegkinders. Vertel ons van jou planne vir die toekoms.

Eintlik nie net vir kinders nie, maar ook vir vroue wat hulle kinders op een of ander manier verloor het. Dit kan deur die dood wees, of ma’s wat hulle kinders vir aanneming moes weggee of selfs pleegouers wat hulle pleegkinders verloor het nadat hulle by die biologiese ma teruggeplaas is. Ek verstaan ’n ma se hart.

Verder het ek deernis vir alle kinders wat op een of ander manier verwerp is. Dis seker een van die moeilikste goed wat ʼn kind ooit kan ervaar. Ek het simpatie met daardie kinders se soeke na identiteit, na wie hulle is, waar hulle vandaan kom en ook al die vrae wat hulle vra. Ek het al daardie goed self deurgemaak.

Waarvoor ek egter dankbaar is, is dat ek ’n stewige fondament van liefde gehad het voor ek uitgevind het ek is aangeneem. Selfs deur my ietwat stormagtige tienerjare het die liefde wat ek by my aanneemouers gekry het, gekeer dat ek heeltemal rebels word.

En dan het hulle my baie geleenthede gegee. My ma en pa het in my geglo en die talente wat ek het, ontwikkel.

Ek wil graag ’n organisasie stig wat al die kinders in Suid-Afrika sal help om hulle aangebore talente te ontdek en te ontwikkel. Nie net kinders in weeshuise nie, maar ook dié in townships of waar ook al. Dit gaan nie oor ras of taal of enigiets nie behalwe om aan ons kinders die selfvertroue te gee om hulle talente uit te leef. Elke mens het een ding waarin hy of sy goed is; jy moet net uitvind wat dit is. My droom is dat vroue oor die hele land daarby betrokke sal raak.

Dit is maar my manier om my dankbaarheid teenoor God te wys vir die lewe wat Hy my gegee het – ’n lewe waarin ek baie pyn en verlies ervaar het, maar waarin ek ook die liefde en vergewensgesindheid van Hom ontvang het om die groter prentjie raak te sien.