Só kry jy meer tyd vir lekker dinge

0
41
meer_tyd.jpg

Die tyd gaan al vinniger verby en voor jy nog jou oë kan uitvee, is jou lewe om. Só laat jy elke oomblik tel.

Elke week gaan gouer om as die vorige een. Die jaar 2014 lê op sy rug, maar dit voel vir jou asof hy nou net begin het! Jy het nog skaars jou Nuwejaarsbesluite geneem en nou is dit al weer tyd om Kersgeskenke te koop.

Dis iets waaroor ons almal kla: Hoe ouer jy word, hoe vinniger gaan die tyd verby. Altans, dis hoe dit voel, want ’n dag het tog nog altyd 24 uur.

Jy onthou nou ook minder as toe jy ’n kind was. Jy kan seker ook in besonderhede jou eerste soen in jou gedagtes herroep. Die rede is dat die hormone wat tydens die tienerjare inskop, jou alle emosionele belewenisse beter laat onthou. Dis hoekom dit so maklik is om die goeie tye te onthou (en so moeilik is om die slegtes te vergeet!).

Daar bestaan verskillende teorieë oor hierdie verskynsel. Sommige wetenskaplikes beweer dat die verandering in jou hartklop, metabolisme en liggaamstemperatuur ’n rol speel. Ander meen dat jou brein al hoe minder van die chemiese stof dopamien afskei, wat jou interne horlosie beheer.

Daar is ook ’n ander teorie. Hoe ouer ons word, hoe minder nuwe ervarings is daar. Dis amper ’n geval van been there, done that. Daarom doen jy baie dinge outomaties. Dink maar aan klere aan- en uittrek, kos kook en selfs motor bestuur. Jy is eintlik vir ’n groot deel van die dag op autopilot.

Dit help jou, want nou kan jou brein meer energie aan belangriker take of probleme bestee. Op dié manier is jy baie meer effektief, maar teen ’n prys: Hoe minder bewustelike aandag jy aan elke oomblik van jou dag gee, hoe vinniger gaan die dag verby.

En as jy jou weer kom kry, is jy oud en kan jy nie regtig sê wat jy alles gedoen het nie. Nogtans, jy kan miskien nie ekstra ure in jou dag kry nie, maar jy kan leer hoe om meer bewustelik te leef. Dan sal dit minstens vir jou voel asof jy meer tyd het.

Gaan soek daardie dinge wat jou asem wegslaan

Die Engelse woord daarvoor is awe – die gevoel van verwondering en bewondering wat jy kry wanneer jy iets mooi en inspirerend teëkom. Dit kan verskillende dinge vir verskillende mense wees. Jy voel dalk so wanneer jy na ’n mooi skildery kyk of ’n aangrypende gedig lees. Of dis ’n liedjie wat jou hartsnare roer. Party mense ervaar dit as hulle in die natuur stap of ’n mooi sonsondergang aanskou.

Wetenskaplikes het bevind dat wanneer mense gereeld so ’n ervaring beleef, dit by hulle ’n gevoel skep dat hulle meer vrye tyd het. Hulle is rustiger en geduldiger en meer tevrede. Party mense sal selfs aanbied om vrywilligerswerk te doen omdat hulle glo dat hulle genoeg tyd daarvoor het.

Hierdie gevoel kry ons baiekeer net as ons met vakansie is. Dan doen ’n mens mos al die dinge wat jy so lank afgeskeep het. Dink maar aan die salige gevoel van die growwe seesand tussen jou tone terwyl jy aan ’n roomys lek.

Volgens die slim mense moet jy meer gereeld sulke belewenisse hê. Probeer om gereeld iets moois in jou lewe te kry. Dek ’n spoggerige tafel volgende keer as jy onthaal. Staan terug en bewonder jou handewerk. Neem ’n foto en sit dit as skermpatroon op jou rekenaar. As jy ’n natuurmens is, gaan stap deur jou tuin en verlustig jou aan die pragtige rose.

Moenie die mooi dinge afskeep wat jou laat tick nie. Dis net so belangrik soos asemhaal!

[pagebreak]

Neem minder besluite en kry jou kop skoon

Jy kom elke dag voor honderde keuses te staan. ’n Gewone koffie-afspraak met ’n vriendin kan maklik in ’n klein krisis ontaard, want jy moet kies tussen kitskoffie, filterkoffie, espresso, skuimkoffie of sjokoladekoffie. Of is jy eerder lus vir tee? Nou ja, daar is chai tee, rooi cappuccino, swart tee en groen tee. Dit voel naderhand of jou kop draai.

Hoe meer besluite jy elke dag neem, hoe swakker is jou vermoë om aandag te gee aan wat rondom jou gebeur. Aanhoudende besluitneming kan jou dreineer en jou spanning laat toeneem. Ironies genoeg lei dit dan weer tot swakker besluitneming op die lange duur. Navorsing het getoon hoe meer opsies jy oorweeg, hoe groter is die kans dat jy ontevrede sal wees met jou keuse.

Een besluit wat wel die moeite werd is om te neem, is om te besluit waaroor jy nié voortaan gaan besluit nie. En watter dinge wel die moeite werd is om oor te tob. Só sal jy meer plek in jou kop hê om behoorlik aandag te gee aan die dinge wat om jou aangaan.

President Barack Obama het besluit om net twee kleure pakke, blou en grys, te dra. Hy glo so kan hy al sy aandag aan groter besluite skenk. Dit beteken nie jy moet ook net twee kleure in jou kas hê nie, maar hy het dalk ’n punt beet. Soek maniere om jou lewe te vereenvoudig; dan hoef jy nie jou kop oor die klein goedjies te breek nie.

Leef asof jy oorgenoeg tyd het

Ons wil almal meer tyd hê – tyd om ’n nuwe stokperdjie te beoefen of meer vakansie te hou en dinge saam met ons geliefdes te doen. Maar selfs al voel dit vir jou asof die tyd stadiger verbygaan, het jy nog altyd net dieselfde aantal ure in ’n dag. Wat is dan die punt? wonder jy miskien.

Navorsing het bewys mense wat voel hulle het genoeg tyd, is gelukkiger en meer vervuld as mense wat altyd gejaagd is. Hulle kry ook minder hoofpyne en maagaandoenings en slaap snags beter.

Jy dink dalk: Ja, dis maklik as jy dit kan bekostig om ’n tuisteskepper te wees. Dan sal jy mos rustiger wees. As jy elke dag werk moet toe gaan, is dit altyd ’n gejaag.

Tog maak dit glad nie saak of jy ryk of arm is nie. ’n Rustiger lewe maak jou gelukkiger, ongeag wat jy verdien. Jy kán dus ’n kwaliteit lewe hê met presies dieselfde aantal ure as wat jy voorheen gehad het.

Dit is hoekom dit die moeite werd is om jou persepsie van tyd te verander. Hoe meer jy ervaar dat jy genoeg tyd het, hoe kalmer sal jy voel en hoe makliker sal jy al daardie spesiale oomblikke kan waardeer soos hulle ontvou.

Bewonder gereeld daardie dinge wat vir jou so vreeslik mooi is, beperk jou keuses en raak rustig. Wie weet, miskien kan jy volgende jaar hierdie tyd verbaas terugkyk en sê: “Wow, hierdie jaar het toe glad nie so vinnig verbygevlieg soos laas jaar nie!”

Verwerk uit How to Slow Down Time and Get More Done deur Ron Friedman.