Só leef Shéri Brynard met Down-sindroom

0
29
Sheri_Brynard.jpg

Shéri Brynard is die superheldin van Down-sindroom wêreldwyd. Hoe voel dit régtig om in haar skoene te staan?

Die lys van bekendes met wie sy al blad geskud het, is lank. Die lys van toekennings wat sy al ontvang het, nog langer. Dit lyk asof sy alles maklik regkry – maar is dit waar? Ons het een volle dag saam met Shéri en die mense na aan haar deurgebring. Sy en haar ma, Susette, gesels oor die mites oor Down-sindroom.

Is daar enige alledaagse goed wat jy nie op jou eie kan doen nie?

Shéri: Sjoe ja, daar is baie goed wat ek wens ek kon doen, soos om motor te bestuur en kos te kook. Dis vreemd, ek het al voor die Verenigde Nasies in New York gepraat, maar ek was bang toe ek die eerste keer alleen moes vlieg.

Susette: ’n Groot rede waarom Shéri so selfstandig is, is dat sy by Martie du Plessis, ’n skool vir kinders wat fisiek, serebraal of leergestremd is, moes inpas. Die leerders daar het ’n normale IK, maar Shéri is niks anders behandel nie en sy moes maar net survive.

Shéri: Die res van die goed doen ek self. In die aande besluit ek wat ek die volgende dag wil aantrek en ek kan my eie grimering aansit. My ma moet my net met my oë help. Ek doen my eie voorbereiding en by Lettie Fouché, waar ek ’n assistent-onderwyser is, gee ek lessies en help die kinders met hulle werk.

Is dit waar dat mense met Down-sindroom nie baie oud word nie en heelwat gesondheidsprobleme het?

Susette: Dat mense met Down-sindroom vroeg sterf is beslis ’n mite. Op die oomblik is die oudste persoon met Down-sindroom 75, dink ek.

Dokters sê vir jou baie goed wat nie noodwendig waar is nie. Een is dat jou kind net so ver soos sewe sal ontwikkel. Ek het besluit ek sal daardie grense verskuif. Met die regte stimulasie kan ’n kind met Down-sindroom kognitief ver ontwikkel.

Shéri: Mense met Down-sindroom is geneig om gewig aan te sit en omdat ek kort is, is ek meestal op ’n spesiale dieet. Ek gaan drie keer ’n week na ’n biokinetikus toe wat saam met my oefeninge doen. Sy help my veral met balans en om die regte spiere te ontwikkel.

Susette: Mense met Down-sindroom weet dikwels nie hoe om sosiaal aanvaarbaar tussen ander mense op te tree nie. Hulle is byvoorbeeld baie lief vir kontak en drukkies, maar dit is iets wat jy tog nie met enigiemand kan doen net wanneer jy so voel nie. Shéri se sosiale vaardighede is goed ontwikkel omdat sy in ’n hoofstroomskool was. Ons het haar geleer om dit te hanteer.

[Pagebreak] Shéri: Dit was partykeer erg. Veral die seuns het my gespot. Dan het ek vir hulle gevra of hulle my ekstra chromosoom wil hê. Hulle het gewoonlik nie geweet wat om te sê nie. Net: “Hû?”

Glo jy daar is ’n spesifieke rede waarom jy hier op aarde is?

Shéri: Een van die goed wat ek by die skool doen, is om vir die kinders ’n Bybelklassie aan te bied. Dis vir my baie lekker om op so ’n manier iets te beteken. Dit voel vir my of ek die kinders kan help omdat ek weet hoe dit voel om gestremd te wees. Ek kan hulle troos en hulle leer wat om vir mense te sê wat hulle spot.

Susette: Ek glo beslis die Here het ’n doel gehad met Shéri toe sy gebore is. Onthou, ek en Jerry (haar pa) het glad nie verwag dat ons eerste kind Down-sindroom gaan hê nie. Wat ons gehelp het, is dat ons dit gou aanvaar het. Sodra jy dit aanvaar het, maak jy die lewe vir jouself, vir jou kind en vir ander mense baie makliker.

Toe Shéri drie maande oud was, het ons van ’n dokter in Duitsland gehoor. Hy het breinselle van ’n lamsfetus getrek, dit dan met ’n steriele mengsel gemeng en vir die kinders ingespuit. Sy teorie was dat indien hy die veroudering van die selle in die kind met Down-sindroom kan uitstel, kan die kind verder ontwikkel as die normale sewe jaar. Alhoewel daar nie bewyse was dat dit werk nie, het ons besluit om die kans te waag.

Maar daar was een probleem: geld. Ons was jonkgetroud en het net in ’n nuwe huis ingetrek. Ek was 25 en ’n onderwyser, en hy 27 en ’n skakelbeampte by die universiteit. Toe ek vir hom sê: “Maar Jerry, ons het nie geld om hierdie kind oorsee te vat nie,” het hy geantwoord: “As die Here wil hê ons moet gaan, sal ons.”

Toe sê ek: “Jerry, dis baie pragtig om sulke nonsens te praat, maar jy het geld nodig.”

Gelukkig het Jerry hom nie aan my gesteur nie en begin om alles te reël. Hy het net vas geglo die Here sal voorsien. Sonder dat ons dit geweet het, het kollegas, vriende en familie vir ons begin geld insamel tot ons op ’n dag ’n tjek op ons motor se voorruit gekry het: R12 000. Presies genoeg om Shéri Duitsland toe te vat.

Dit is waar ek vir die eerste keer gesien het ’n mens kan baie goed sê, maar die Here het haar gebring tot waar sy is. Hy het ’n doel met hierdie kind gehad toe sy gebore is. En Hy het regtig voorsien.