Só leer ons vir Natasha ken

0
130
natasha_sutherland.jpg

Natasha Sutherland gesels oor haar kêrel, bieg oor die dinge waaroor sy spyt is, en praat eerlik oor haar finansies.

Het jy ʼn kêrel en sal jy weer trou?Jani Ackerman

NATASHA: Op die oomblik is my kêrel soos my Ferrari. Ek het nie een nie! Ek het al ʼn paar keer ge-date. Maar ek is ʼn vreemde vis en baie gemaklik in my huidige roetine – onafhanklik en soms geslote. Of dit ʼn goeie of ʼn slegte ding is weet ek nog nie. Tog glo ek dat ek my intuïsie kan vertrou om te bepaal of iets meer ernstig kan raak. My seuns is natuurlik ʼn baie groot faktor in al my besluite.

Maar miskien is ek net bang dat ek myself weer in ʼn verhouding sal verloor… En dit is nie ʼn slegte ding om bedag te wees daarop nie! Wie weet, ek het baie geleer van hierdie dates waarop ek was. Dit was nogal ʼn reis! Ek is oop vir ʼn verhouding en mis nogal die kans om iemand op ʼn spesiale manier lief te hê, maar ek sal beslis nie settle vir die minste omdat ek bang is om alleen te wees nie.

Waaroor is jy spyt?Eunice Viljoen

NATASHA: My spirit has no regrets my ego has many!
Sekere ouens, wens ek, het ek meer gesoen; sommiges minder!

Hoe maak jy dit finansieel?Desire Smith

NATASHA: Ek hou die balle van aktrise wees en harde werk goed in die lug! Gelukkig is die egskeidingskontrak in plek en Steve voorsien die seuns met als wat nodig is – veral in terme van skoolgeld en medies. Dis ʼn blessing!

Dis ook ʼn groot geluk dat ek vir wonderlike maatskappye soos Placecol en e-tv se Scandal kan werk, waar ek gevestig is en nodig voel.

Dan het ek ook ʼn paar brawe besluite geneem. Ek het verlede jaar my 4 x 4 voertuig verkoop asook die groot huis op die plot, sodat my lewenskoste bietjie minder is. Sodoende het ek meer geld vir reis saam met my seuns. Maar ai! Die dag tot dag uitgawes het ʼn manier om jou onkant te betrap. Ek bekommer my nogal oor goed soos pensioen en aftree annuïteite, maar ek probeer verantwoordelik wees om dit in plek te kry. Ons het ʼn goeie lewe. Ek het niks oom oor te kla nie!

Waar wil jy oor 10 jaar wees?Danelle van Niekerk

NATASHA: Gesond. Met kinders wat gesond is, en hulle drome en lewensdoel najaag. Ek sal graag meer boeke wil skryf wat deur meer mense gelees word wêreldwyd. En ek wil ʼn hele tas vol reis herinneringe hê, avonture saam met my seuns voordat hulle grootword en hul eie pad begin stap. As dit so bestem is, sal ek mal wees daaroor om in ʼn verhouding met ʼn man te wees wat my spasie gee. Iemand wat my vreemde oomblikke verstaan. Iemand wie ek so vurig kan liefhê soos wat ek my eie gesin het.

Jy en Benjamin is vroeër vanjaar beroof, hoe het julle deur hierdie trauma gewerk? Finesse redaksie

NATASHA: Deur my persoonlike ondervindings en studies in logoterapie (ʼn veld van sielkunde, waarin sy tans ʼn gevorderde diploma voltooi) kon ek hom help. “Die rower het gesê hy gaan my in my gesig skiet as ek nie vir hom my selfoon gee nie. Wat my die bangste gemaak het, is dat my kind dit moes sien.

“Ek het saam met Ben deur daardie angstige gevoelens probeer werk sodat hy kan groei daaruit eerder as dat die vrees hom sou oorweldig.

“Hy het uit sy eie uiteindelik gesê hy hoop die man het ʼn huis en ʼn yskas vol kos. Ek was verstom oor sy goedheid… al waarvoor ʼn mens kan hoop is dat jou kinders verstaan die lewe is nie perfek nie en kan nie beheer word nie, maar dat ʼn mens steeds die goed uit alles kan trek. En soms doen hulle dit net so natuurlik.”