Só lyk die rolle in ons huwelik

0
1749

Rolanda Marais Malherbe en haar man, Jozua, weet nie net hoe die rolverdeling van ’n film werk nie, maar ook hoe om die verskillende rolle in hulle huwelik te vul.

Die idee van wat ’n vrou se rol in die samelewing is, kom seker al uit die oertyd. Tog is ons plek lankal nie meer net by die huis, saam met die kinders, agter die kospotte nie. Ons vervul al hierdie rolle saam met ’n voltydse loopbaan.

Rolanda glo dat daar wel sekere takies is wat slegs vroue in die huis kan verrig, veral as dit by ma-wees kom. “Ek dink baie mans en pa’s het darem al daardie kopskuif gemaak dat die vrou nie al die huislike en ouerlike take alleen moet doen nie. Dit is lankal nie net meer die vrou se werk om kos te maak en die kinders te bad nie. Tog is daar sekere goed wat net ’n vrou of ma kan doen, soos wanneer jou kind siek is. Mamma is die een na wie hulle soek as die ore pyn of keel seer is. Net so is daar weer ander takies wat uitgeknip is vir jou man.”

In die Malherbe-huis werk dit ook so. Rolanda is die een wat gewoonlik agter Charlotte opruim en skoonmaak terwyl Jozua haar dan sal bad en vir haar stories lees. Kosmaak was altyd haar plig totdat sy swanger geraak en die moegheid haar saans gevang het. Hy moes vinnig leer hoe die stoof werk anders sou hy party aande honger moes gaan slaap. Van toe af het hy ’n groot liefde vir kosmaak ontwikkel en maak hy nou gereeld vir hulle aandete.

[VIDEO] Hoe om die “WIL” terug in julle huWILik te sit. Rolanda deel met ons ‘n paar geheime.

“Om die vullis uit te vat is natuurlik iets waarvoor niemand ’n liefde ontwikkel nie. Ek het dit altyd gedoen omdat ek gewoonlik vroeër as Jozua opstaan, maar tydens my swangerskap het ek hom gevra om asseblief dit by my oor te neem. Dit het wel die eerste oggend amper in ’n klein oorloggie ontaard, maar sedertdien stel hy sy wekker baie getrou om hierdie takie vir ons te verrig.”

Hulle het nooit formeel gepraat of besluit oor die rolverdeling in die huis nie, dit het eerder organies gebeur. Rolanda is geseënd met ’n man wat bereid is om in te spring as dit soms rof gaan. Hy neem ook sonder huiwering haar verantwoordelikhede oor as sy weg van die huis af is of ’n ruskans nodig het.

“Ek het baie respek vir enkelouers, want hoe ’n mens al hierdie rolle alleen vertolk, weet ek nie,” sê Rolanda. “Vir die vroue wie se mans glad nie in en om die huis help nie, sal ek aanraai om nie moed te verloor nie. Mans het soms ’n hupstootjie in die regte rigting nodig, maar hoe jy hom benader, is baie belangrik. Moenie iets sê soos: ‘Jy doen ook net mooi niks in die huis nie’ – dit is aanvallend en die kans dat hy dan éérs niks gaan doen nie, is groot. Benader hom met liefde en respek, dan sal jy wondere met hom kan verrig. Om openlik hieroor met mekaar te praat is al wat nodig is.”

Rolanda en Jozua is ook daarop ingestel om elke takie nie net te verrig nie, maar om dit uit liefde te doen. Hy sal altyd vir haar ’n soen of drukkie gee as hy selfs net Charlotte se bottel aangee. Vir hulle is dit ’n daaglikse en doelbewuste besluit – om vir mekaar, en ook vir hulle dogtertjie, te wys dat hulle lief is vir mekaar en die ekstra myl sal loop, al is daardie vullis-werkie nie baie lekker nie.

“Die huwelik is niks anders spanwerk nie. Vir ons verander die rolverdeling gereeld, maar ons weet dat ons besig is om in ’n pragtige huweliksfilm te speel en dit maak dit alles die moeite werd.”