Só maak jy Mnr. Reg groot

0
194
bobby_van_jaarsveld.jpg

Hoe maak jy Mnr. Reg groot? Michael Mol en Bobby van Jaarsveld se ma’s vertel hoe hulle dit gedoen het.

Respek vir ’n vrou is die belangrikste

Ronel Brink, ma van Karlien en Bobby van Jaarsveld

“Wanneer ’n man se verhouding met God reg is, sal dit oorspoel na die res van sy lewe. Dan sal hy ook respek hê vir ’n vrou. En dit is dié enkele grootste eienskap van ’n Mnr. Reg.
“Al is ek en my man geskei toe Bobby net sewe was, was hulle pa steeds baie betrokke by hulle lewe. Daar was geen getoutrekkery oor die kinders nie en ons het 50/50-toesig gehad. Ek dink die manier waarop ons mekaar respekteer het ten spyte van ons verskille was ook vir die kinders ’n voorbeeld van hoe ’n man en vrou teenoor mekaar optree.

“Ou gentleman-maniere is vir my baie belangrik. ’n Man móét ’n vrou voor hom laat loop. Hy móét vir haar die deur oopmaak. In Bobby se geval het ek hom maar geleer soos situasies ontstaan het. As hulle voor iemand indruk, sou ek vir hom leer dat hy vroue eerste kans moet gee. Net gisteroggend by die lughawe het hy ’n ouer dame met haar tasse gehelp. Miskien ’n klein gebaartjie, maar vir my as ma ’n teken dat hy respek het vir vroue en vir ander mense.
“Sy verhouding met vroue kan eintlik opgesom word in die liedjie ’n Vrou wil dit hoor. Daardie woorde vertel hoe Bobby oor vroue voel.” Kyk Bobby se musiekvideo ʼn Vrou wil dit hoor hier onder:

Selfvertroue gee hom mannemoed

Joy Mol, ma van televisiepersoonlikheid en dokter, Michael Mol

“So baie keer baseer mense hul selfwaarde op voorkoms, intelligensie en aardse besittings, maar dit is alles goed wat nie vir altyd hou nie.
“Van kleintyd af het Michael baie selfvertroue gehad. Miskien een van die eienskappe wat destyds gemaak het dat hy as Mnr. Suid-Afrika aangewys is.

Ek glo ons het sy selfbeeld gebou deur hom groot te maak met die volgende ouerskapbeginsels:

BRING TYD SAAM MET JOU KINDERS DEUR Die goed wat jy saam met jou kinders doen, is dit wat hulle eendag gaan onthou. Nie die geskenke wat hulle met Kersfees gekry het nie. Speel saam met hulle, gaan op uitstappies en swem saam met hulle. Maak ook tyd om alleen saam met elke kind te spandeer.
AANVAAR DAT JOU KIND FOUTE MAAK Geen mens is perfek nie. Beslis ook nie jou kind nie, maar deur op hom te skreeu, gaan jy sy selfbeeld afbreek. Praat mooi met jou kinders wanneer hulle iets verkeerd gedoen het. En wanneer jy dissipline toepas, doen dit uit liefde. Wanneer jy ’n fout gemaak het, is dit belangrik dat jy dit erken en om verskoning vra. Kinders leer deur nabootsing.
MOENIE VERGELYK NIE. NOOIT NIE Elke kind is verskillend met unieke talente. Laat jou kinders self kies watter aktiwiteite hulle wil doen in plaas daarvan om net dieselfde te doen as wat die oudste doen. Moenie te veel druk op hulle plaas nie. Wat hulle ook al doen, moet vir hulle lekker wees om te doen. Hulle moet weet dat jy lief is vir hulle ten spyte van hulle mislukkings óf prestasies.
WYS JOU KINDERS HOE OM GOD LIEF TE HÊ Die belangrikste waarde wat ek dink ’n ma moet oordra is haar liefde vir God. Leer jou kind hoeveel God hulle liefhet en waardeer. Die grootste enkele fondasie vir ’n kind se selfbeeld is om te weet dat God hom liefhet vir wie jy is en nie vir wat jy doen nie. Met daardie wete sal hy ’n Mnr. Reg in enige vrou se oë wees.

Kliek hier vir foto’s van Michael Mol se fotoalbum.