Só moet jy met jou geld werk

0
473
tema_aktueel_2.jpg

Praatjies oor finansies laat maklik ’n bitter smaak in jou mond. Ekonoom, Dawie Roodt antwoord jou geldvrae reguit.

Moet ek spaar, en wat is die beste manier om te spaar?

Ja, jy moet spaar. Spaar is uitgestelde gebruik. Gestel jy oes vandag 100 sakkies mielies, dan gebruik jy nie dadelik alles nie, maar bêre 10 sakkies in die stoor om in die toekoms te gebruik. Die teenoorgestelde van spaar is wanneer jy jou eie 100 sakkies gebruik, én nog 10 by die buurman leen om dadelik te gebruik. Met ander woorde, jy gebruik in die toekoms in.

Behalwe die uitgestelde gebruik, is spaar ook ’n manier om kapitaal op te bou. Jy kan byvoorbeeld daardie 10 sakkies wat jy gebêre het, plant. So sal jou opbrengs in die toekoms meer as net 10 sakkies wees. As jy dus nie spaar nie, kan jy nie belê nie en ook nie ekonomies groei nie.

Daar is talle opsies om te spaar, na gelang van waar jy in jou lewe is. Wanneer jy aan die einde van jou loopbaan is, sal jy kleiner risiko’s neem. Aan die begin van jou loopbaan weer groter risiko’s. Indien jy ’n entrepreneur is, kan jy in jou eie onderneming belê, anders kan jy in iemand anders se onderneming belê – soos op die aandelebeurs.

Is dit beter om ’n huis te koop of te huur?

Weereens hang dit van baie faktore af. Oor die algemeen is dit nie ’n slegte idee om ’n huis te koop nie. Jy moet in elk geval êrens bly. Maar min Duitsers, byvoorbeeld, besit huise. Die meeste van hulle huur huise. Soms kan dit sin maak om eerder ’n blyplek te huur, wat goedkoper is as om ’n verband af te betaal, en die ekstra geld wat jy op ’n huisverband sou afbetaal, te belê. Dit kan gebeur dat die aandelerekening waarin jy jou geld belê het, beter presteer as wat jou belegging in ’n huis sou.

Verder hang dit ook af van rentekoerse: Is dit hoog of laag wanneer jy koop? Dieselfde geld vir huispryse: Is dit hoog of laag? Besluit of jy vir ’n lang of ’n kort tydperk in die huis gaan bly. Oordrag- en registrasiekoste is baie hoog, so, as jy gou weer gaan trek, maak dit nie sin om te koop nie. Jy moet al hierdie faktore oorweeg wanneer jy ’n huis koop. Die antwoord is nie so eenvoudig soos die een is beter as die ander een nie. Dit hang af van wie jy is en hoe die mark en huispryse lyk.

[pagebreak]

Wat kan jy doen as jou pensioen te min is en jy móét aftree?

Heel eerste wil ek net noem dat aftree regtig ’n belaglike idee is. Ons moet anders daaroor begin dink en van die “aftree-idee” ontslae raak. Die kort antwoord is: Moenie aftree nie! Op die oomblik is ons mees produktiewe ouderdom 55. Die meeste Nobelpryswenners is tussen 60 en 64 jaar oud. Dit maak net nie sin om op te hou werk net omdat jy ’n sekere ouderdom bereik het nie. So verloor ons ’n baie produktiewe deel van die arbeidsmark – en jy verloor ’n inkomste en sit met die dilemma van te min geld. Mense kan en behoort langer te werk.

Wanneer jy vir ’n plek werk wat vereis dat jy op ’n sekere ouderdom moet aftree, moet jy ’n ander werk kry. Of’n entrepreneur word en jou eie besigheid begin. As niks hiervan moontlik is nie, is die enigste alternatief om jou lewenstandaard so af te skaal dat jy wel met jou verminderde inkomste kan oorleef.

Wat is die beste manier om skuld af te betaal?

Jy moet dadelik ophou om in die toekoms in te gebruik. Raak ontslae van “onmiddellike bevrediging”. Gebruik net die geld wat jy nou kan uitgee, en spaar geld vir die toekoms. Verder moet jy ’n gesinsplan hê. Hierdie plan moet aandui wat julle gesin se finansiële verpligtings is, en wat jy kan bekostig. Kom ten minste een of twee keer per jaar as gesin saam om oor julle finansies te gesels.

Bespreek alle moontlike uitgawes op hierdie vergadering: Gaan die kinders universiteit toe? Moet daar nog ’n voertuig gekoop word? Wil julle ’n wildsplaas of ’n huisie by die see hê? Of oorweeg julle dit om ’n familiebesigheid te begin? Wil julle met vakansie gaan? Wat gaan met die boedel gebeur?

Die beste manier om van skuld ontslae te raak is om presies te weet wat julle finansiële planne is – waarheen werk julle en wat die beste manier is om daar te kom. Hiervoor is dit raadsaam om ’n finansiële adviseur te nader.

Wat is die dinge wat ’n huishoudelike begroting omvergooi?

Dit is nie die klein jakkalsies wat ’n huishoudelike begroting omvergooi nie, dis eerder ’n gebrek aan kennis. Mense weet doodgewoon nie hoe hulle geldsake staan nie. Om geld op onnodige goed uit te gee is dan eerder ’n simptoom van hierdie probleem. As jy presies weet wat jou finansiële posisie is, sal jy nie onnodig geld bestee nie.

As jy weet wat in jou finansies aangaan en wat jy beplan, het jy 90% gewen. Daarna moet jy net die selfdissipline hê om by jou plan te hou. Dit beteken jy moet by jou begroting hou en net die geld spandeer wat binne jou finansiële plan inpas. As jy nie vir iets beplan het nie, is dit nie noodsaaklik nie en moet jy nie geld daarop uitgee nie, anders gaan jou finansies nie klop nie. Die dinge wat dus jou “begroting omvergooi” is eintlik ’n probleem lank voordat jy daarvan weet. Dit begin by ’n gebrek aan inligting en beplanning.

[pagebreak]

Moet ’n mens ’n finansiële adviseur hê? Of is dit net vir persone met baie geld?

Jy moet beslis ’n finansiële adviseur hê. Ongelukkig. Ek sê juis “ongelukkig” omdat geen enkele persoon al die nodige kennis het om goeie finansiële beplanning te doen nie. Die regulasies en red tape is so ingewikkeld dat jy jou maklik kan vasloop en groot foute maak. Soms maak finansiële adviseurs weer gebruik van ander finansiële adviseurs wat kundiges is op ’n gebied waar hulleself nie die nodige kennis het nie. Die finansiële wêreld is uiters kompleks; daarom is daar kenners in verskillende areas wat die regte raad en leiding kan gee.

Selfs al het jy ’n goeie kennis van finansies is daar dinge, soos testamente, wat deur ’n kundige hanteer moet word. Jy hoef ook nie eers skatryk te wees voor jy by ’n finansiële adviseur gaan aanklop nie. Eintlik behoort jy die dag wanneer jy jou eerste salaristjek ontvang, ’n finansiële adviseur te kry wat jou sal jou help om baie meer geld te spaar as wat jy vir sy diens betaal.

Het ’n mens baie geld nodig om op die aandelebeurs te belê of kan jy regkom met ’n paar rand?

Om in die aandelebeurs te belê is eerstens ’n ingewikkelde ding om te doen. Hoewel ek mense aanmoedig om betrokke te raak, moet dit versigtig gedoen word. As jy nie die nodige kennis het nie, sal jy verkeerde dinge doen en onnodige risiko’s loop. Jy moet ’n redelike bedrag geld hê om sinvol in aandele te belê – jou finansiële raadgewer sal jou hieroor kan adviseer. Die rede is dat daar sekere kostes aan verbonde is. As jy net ’n klein bedrag het om te belê, is dit nie die moeite werd nie.

Dit maak byvoorbeeld nie sin om R10 000 in ’n aandeleportefeulje te belê nie. Vir kleiner bedrae is dit raadsaam om eerder in effektetrusts te belê omdat die koste daaraan verbonde baie laag is. Weereens hang dit af van wie jy is, hoeveel geld jy beskikbaar het en wat die risiko is wat jy kan of wil neem. ’n Finansiële adviseur sal jou die regte raad kan gee.

Baie mense voel hulle sloof hulle af, maar hulle bankbalans wys dit nie. Werk ons “verkeerd”?

’n Mens moet onthou dat ons vandag beter daaraan toe is as ooit tevore. Ons lewenstandaard is dramaties hoër as ’n paar geslagte gelede. Vandag se mense met ’n middelinkomste lewe baie beter as konings van ’n honderd jaar gelede. Dit gaan dus nie slegter nie, maar beter.

Die groot kopskuif wat jy moet maak, is dat jy sukses moet nastreef en nie rykdom nie. Sukses beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Jy moet heel eerste kyk na wat “sukses” vir jou is. Wat wil jy graag doen en bereik? Streef dan daarna. Suksesvolle mense is gelukkige mense. Hulle is ook ryk, leef lank, het goeie kwalifikasies, bly in ’n lekker huis en is produktief. Sukses is die antwoord vir geluk. Eers dan sal jy tevrede wees met wat jy doen en wat die uitkoms daarvan is.