Só sal jou man na jou begin luister

0
16
luister.jpg

Onthou jy nog hoe jou ma se gedurige geneul in jou ore om jou kamer aan die kant te maak later net ’n gedreun geword het? Die geskiedenis herhaal homself, en as jy nie op die regte manier en tyd met jou man gesels nie, gaan jou versoeke op dieselfde dowe ore val.

Tydsberekening is uiters belangrik as jy wil hê ’n man moet na jou luister.

Dit is nou maar eenmaal so dat sy aandag nie by ’n gesprek kan wees as hy honger of moeg is nie. Probeer dus maar wag tot ná aandete voor jy hom met ’n klomp versoeke oorweldig. Dit sal jou ook kans gee om te dink hoe jy die saak gaan benader. Onthou die goue reël: Gesels met hom vanuit ’n ekperspektief en hoe dit jou laat voel as hy nooit aanbied om aandete te maak nie. Sodra jy hom begin beskuldig en ’n vreeslik-jammer-vir-myself-houding inneem, slaan sy ore bot toe.

As jy geneig is om heeltyd fout te vind met wat jou man doen en nie doen nie, is daar ’n groot kans dat jy eintlik ontevrede is met jouself. As jy nie gelukkig is by die werk, met jouself of ander verhoudings in jou lewe nie, begin jy net fokus op alles wat verkeerd is om jou. Maak seker jy is gelukkig en dat jy genoeg tyd maak vir jou eie passies. Hoe jy voel, beïnvloed regtig hoe jy hom sien, want jy oordeel almal volgens hoe jy oor jouself voel.