So verbreek jy die kringloop van stilstuipe

0
84
tips_vir_die_liefde.jpg

Stilstuipe is ’n gewoonte waarin paartjies baie maklik vasgevang kan raak, ’n gewoonte wat vinnig in ’n bose kringloop kan ontaard, meen kommunikasiekenner prof. Paul Schrodt van die Universiteit van Texas in Amerika.

“Omdat paartjies mekaar as die probleem beskou, raak dit baie moeilik om hierdie kringloop te verbreek.”

Schrodt het deur navorsing bevind dat mense wat die stilstuipepatroon volg, min intimiteit en swak kommunikasie het. Hulle voel oor die algemeen net ongelukkig in die verhouding. “Hierdie situasie kan tot sielkundige probleme soos angs en aggressie lei, wat weer gesondheidsprobleme tot gevolg kan hê.”

Stilstuipe word gewoonlik gebruik om iemand te straf of om aandag te kry. As jy dit gebruik om aandag te kry, kan dit vinnig in ’n emosionele warboel van woede ontaard. Daardie einste stilstuipe waarmee jy aandag wou kry, word nou die oorsprong van konflik. En wanneer jy dit as straf gebruik, straf jy eerder jouself as die ander persoon.

Eintlik kan stilstuipe maklik gebreek word, meen prof. Schrodt. “Al wat jy moet doen, is om jou mond oop te maak en te begin praat. Probeer iets soos: ‘Ek haat dit om stilstuipe te kry en ek hou nie van die mens wat ek nou is nie. Maar hier is die goed wat my pla. Kan jy my daarmee help, asseblief?’”

’n Eenvoudige taktiek soos hierdie gaan nie net die ys breek nie, maar sal ook jou maat die geleentheid gee om konstruktief te gesels eerder as om heeltyd te verdedig of ’n teenaanval te loods.

DEEL
Vorige artikelHulle verstaan nie
Volgende artikel‘n Ma se liefde
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.