Só word jou gesin ’n goeie span

0
323
andries enslin

Dit voel of jou gesin los van mekaar is, elkeen is met sy eie dinge besig. Kry almal weer nader aan mekaar.

Dit voel of jou gesin los van mekaar is, elkeen is met sy eie dinge besig. Kry almal weer nader aan mekaar.

In die ou dae het gesinne dinge saam gedoen. Hulle was beste vriende. Die kinders het saam met die ouers gewerk en almal was betrokke by mekaar se belangstellings.

Nou is dit anders. In die oggend is dit ’n dolle gejaag. Julle moet by die werk kom en die kinders is al weer laat vir skool. Vanaand kom almal doodmoeg by die huis. Pa val voor die TV neer en jy staan agter die kospotte. Later verdwyn die kinders kamer toe met hulle aandete – oorfone op die kop, in hulle eie wêreld.

So gaan baie dae verby sonder dat julle regtig by mekaar uitkom. Gelukkig kan jy almal weer nader aan mekaar kry deur ’n paar eenvoudige dinge te doen.

Kry ’n doelwit wat jou gesin bymekaar sal trek

Doelwitte is belangrik in elke maatskappy. Dit hou die werknemers se energie hoog en laat hulle fokus. Dit werk presies dieselfde vir ’n gesin.

Dink nou mooi: Wat is jou gesin se doelwitte? Dit hoef gelukkig nie vreeslike groot goed te wees nie. Een korttermyndoelwit vir die volgende ses maande is heeltemal reg.

Kom ons sê Kleinboet gaan volgende jaar skool toe. Kry dan almal bymekaar en stel vir julle ’n doelwit om hom skoolgereed te kry. Elke aand, net vir tien minute, sit die hele gesin om die tafel en kyk hoe hy prentjies teken.

Dit klink dalk eenvoudig, maar weet jy wat gaan dit vir julle beteken? Julle gaan ’n gevoel van kameraadskap kry. Elkeen gaan weet: As ek ’n krisis het, is almal in my gesin daar om my te help.

Miskien is dit amper tyd vir julle jaarlikse vakansie. Laat die kinders op die internet kyk watter plekke interessant lyk. Gee dan vir elkeen ’n beurt om ’n “voorlegging” te doen.

Besluit nou saam waarheen julle wil gaan. Dan kom die lekker deel: Begin beplan. Kry ’n spaarvarkie vir ’n “roomysfonds”, waarin almal hulle kleingeld kan gooi.

Enige gesamentlike doelwit sal wonders verrig vir jou gesin. Julle sal baie meer soos ’n span voel terwyl julle saam aan iets werk.

Leer ken mekaar weer van voor af

Dalk ken jy die mense saam met wie jy werk beter as jou eie gesin. Saam met jou kollegas of saam met die skoolmammas eet jy elke dag sewe sakke sout op. As jy dan pootuit by die huis kom, het jy regtig nie die krag om nog na jou huismense ook te luister nie.

Volgens statistiek praat die gemiddelde ouer minder as een uur per week met hulle kinders. “Maak jou kamer aan die kant”; “Doen jou huiswerk”; “Los jou sussie uit”; “Maak gou, ons is laat” tel ongelukkig nie as gesprekke nie.

Nee, dit gaan oor regtig praat, oor kontak maak met mekaar. Jy moet by die ander een se siel uitkom en haar hart leer ken. Jy moet weet van die vrese, onsekerhede en drome binne-in die opstandige tienerlyf.

Dink ’n bietjie hoe jou maatskappy of die vroueaksie by die kerk gaan lyk as niemand ooit regtig kommunikeer nie. Almal gaan doen wat hulle wil. Dit sal mos chaos wees!

Almal in die gesin moet ’n nuwe gesindheid kry

In ’n gesin moet elkeen besef: Ek is nie hier sodat die wêreld om my moet draai nie. Ek is hier om ander te help. Ander mense, my huismense, is net so belangrik soos ek.

Kinders moet van kleins af leer dit gaan nie oor wat hulle alles kan kry nie, maar oor wat hulle kan gee. Mense wat mekaar wil dien, baklei nie maklik nie, maar mense wat hulle eie ek laat geld, het altyd onderonsies.

Die regte gesindheid wat jy vir hulle kan leer, is: Praat jou hart uit en sê hoe jy voel, sonder om gevoelens seer te maak. Maar luister veral. Rustig en kalm, met jou kop én met jou hart.

Gee mekaar ’n kans en kyk waar die goue middeweg is wat almal op die ou end gelukkig sal maak.

Kry die regte visie – om God te verheerlik

Dis tog die hoofdoel van menswees, maar ook van gesinwees. Elkeen in jou huis moet Sy stem hoor en Sy liefde uitdra. Julle is in die eerste plek gemaak om Hom te dien, en in die tweede plek om mekaar te dien. Presies net soos Jesus gedoen het.

As julle saam kan werk, kuier en lag, sal julle mekaar werklik leer ken. En dan sal julle deur vuur loop vir mekaar.