Soet herinnering op die wasgoedlyn

Dit was ‘n mooi dag in die Kaap. Die wind was vir ‘n verandering bietjie stiller en die son het warm en eg-Kaaps geskyn.

Ten spyte van die heersende droogte en water-uitdagings kon ek wasgoed was. Na ‘n week by my broer-hulle het ek ook ‘n paar waterbesparingsgewoontes aangeleer (tipies kleinsus, doen wat die ouer kinders doen). Onder andere word wasgoedwater gelei na ‘n kan wat later gebruik word vir ander doeleindes. In dieselfde trant word stortwater in ‘n skottel opgevang en so doen ons ons deel om watervlakke in die Kaapse damme stadiger te laat daal.

Ek is uit by die deur om die wasgoed op te hang en onverwags hang ek ‘n soet herinnering op – ‘n swart-en-goud rokkie. Ek het dié rokkie gekoop om te dra na ‘n vriend se troue. Ek onthou hoe ek in ‘n tweestryd was oor die rokkie wat taamlik styf sit. Die post-Comrades-sindroom het my immers getref. My volwasse self het egter geredeneer dat mens nie so selfbewus moet wees as jy pas in ‘n nommer 12 nie. Op die ou end was die rok ‘n wenner en die aand is tot laat gevier, stywe rokkie of te nie.

Totdat my beste vriendin in die wêreld dit aanpas en omtrent tien keer beter as ek daarin gelyk het. Sy is vyf jaar ouer as ek, maar nog altyd meer sportief en ek wou sommer met ‘n permanente pen haar naam op die rokkie skryf.

Nie lank daarna nie vind ons uit my vriendin is swanger (dus was sy vyf jaar ouer, ‘n rokgrootte kleiner, swanger én sy wou nie die rok dra nie!).

Dit word ‘n bitter-soet herinnering, want my vriendin-hulle vlieg binnekort na hul nuwe blyplek oorsee. Sy sal dus nie weer my rokkies kom aanpas of op my nommer druk om hul prinsie op te pas nie. Die afgelope ruk lê my trane vlak oor stukkies lewe soos hierdie wat ek nie meer gaan hê nie.

Dis moeilik, hierdie ding van lief en dierbares wat die land verlaat op soek na beter dinge. Of die rede nou ‘n wonderlike werksgeleentheid, ‘n soeke na veiliger voel of plein hippiegeid is, maak nie saak nie. Dis ‘n stukkie tuis-wees en verhouding wat saam op die vliegtuig klim en agter die wolke verdwyn.

Ek vind vrede in tegnologie – hoop vir ‘n Whatsapp stemnota of ‘n Skype video oproep, saam beleef in ‘n slimfoon foto wat ‘n kosbare oomblik vasvang. Alles in ‘n verhouding is nie in die hier-wees nie. Dis ook in die hart. In die wete dat sy daar is en dat sy iewers nuwe vriendinne en sussies maak wat sy kan seën met haar fisiese teenwoordigheid.

Onwillekeurig laat dit my dink aan die kindjie Jesus. Hy is die Immanuel, God BY ons. Die Heilige Gees is ons Whatsapp stemboodskap, ons direkte lyn. Jesus het gekom om die verbinding te verstewig. Hy is my Wi-Fi wat sorg dat ek God opvang. Is ons nie in die eerste plek geestelike wesens vasgevang in menslike liggame nie?

Dankie tog dat ek die keuse kan maak om aan hierdie “netwerk” te behoort. En dankie tog dat ek ook in my menslikheid kan vashou aan ‘n dierbare vriendin wat weggaan oor die water.