Sommige dae moet jy net KBO

KBO

Vyf pare sokkies. Vir ‘n arm seun was dit baie.

Tydens ‘n wedloop voel ek dankbaar dat ek weer na beserings kan hardloop. In die middel kry ek swaar. Die pad maak ‘n draai op ‘n grondpad wat bedrieglik gelyk voorkom maar inderdaad ‘n lekker  opdraende is. Dis warm en die waterpunt is ver.  Ek motiveer myself om net aan te hou. My gedagtes dwaal na ‘n vriend wat ‘n stryd voer teen sy kanker. Ek besef my swaarkry is niks in vergelyking met wat hy en sy gesin deurmaak nie.

Terwyl ek voortbeur kom die letters KBO in my kop.

Tydens die tweede wêreld oorlog het Winsten Churchill daagliks sy troepe gemotiveer met die letters: KBO. Hy het ook elke telefoongesprek daarmee afgesluit. Spioene het lank geneem om dit te ontsyfer. Die Britte het gemotiveerd voortbeweeg en uiteindelik die wêreld gehelp om die oorlog teen Duitsland te wen. Die leuse was eintlik eenvoudig: KEEP BUGGERING ON

Daar kom dae in jou lewe waar jy met moeite vorentoe beweeg. Koning Salomo gee  raad in Spreuke 4:25. “Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af…” Paulus getuig dat dat dit nie altyd maklik is nie maar dat hy hom inspan om by die wenstreep te kom.

Siya Kolisi moes deur baie opdraendes beweeg. Vyf pare kouse by sy nuwe skool was net die beginpunt. Sy getuienis is hoendervleis mooi. Die pad was nooit reguit nie maar deur die Here getuig hy van geleenthede en mense wat op sy pad gestuur is. Dit het hom krag gegee om aantehou beweeg. Vorentoe.

Ek het self die wedloop se wenstreep bereik al was ek moeg in die middel. Dis nie hoe jy voel en hoe goed jy gehardloop het wat tel nie maar dat jy klaargemaak het.

Soms loop die lewe snaakse draaie met jou. Word vyf pare sokkies ‘n simbool van rykdom. Word ‘n siekbed jou alledaagse lewe. Is daar kinders wat pryse kry en ander wat by die huis moet bly.

KEEP BUGGERING ON.

God fluister in jou oor dat Hy altyd by jou is, dat Hy jou krag gee en dat Sy genade elke dag nuut is.

Baken jou koers af en span jou in om by Sy wenstreep te kom. Uiteindelik is dit al wat regtig saak maak. Die hemelse prys.