“Soms besluit die karakters self wat met my storie gebeur”

665

Die voorreg van ’n skrywer is dat hy soms mag besluit wat met die karakters in sy storie gaan gebeur. Net soms. Want karakters het ’n manier om die storie self te skryf. Eers skryf die outeur die storie, dan skryf die storie homself.

Onlangs het ek ’n nuwe album bekendgestel met meestal my eie lirieke. Die titelsnit, “Droom Martha Droom”, vertel van ’n beeldskone Karoomeisie wat langs die plaasdam wag dat hy wat beloftes gemaak het, moet terugkeer. Maar tevergeefs. In die lig van die volmaan, terwyl ’n jakkals vir haar sy hartseer liedjie sing, staar sy die winternag in. En dit is al.

My vrou het gevoel ek kan maar nog ’n vers skryf. Die liedjie is tog nie te lank nie. Kan hy nie maar terugkom nie? Ek het tog die sê oor wat in my liedjie gebeur, meen sy.

Nee, ek het nie. In die laatnag, toe ek in die vreemde wêreld van my verbeelding op Martha afgekom het, was dit duidelik: ’n Skarminkel het haar hart gebreek. Dis hoe dit is. En ek kan niks daaraan doen nie. Die storie het self besluit.

Maar soms is dit anders. Vir die afgelope paar dae is ’n ander storietjie wat ek jare gelede geskryf het, in my gedagtes. En hy vra om weer geskryf word. Met ’n beter einde.

Abel April kon bou soos min, maar skryf kon hy nie. Van vreemde goeters soos rekenaars en selfone wou hy ook nie veel weet nie. Sy kinders het geleerdheid gekry, ja. Met sy eie hande het hy vir hulle voorsien. In die sweet van sy aangesig. Nooit vir iemand ’n sent gevra nie. Nooit weggebly van sy werk af soos die drinkerskollies nie.

Abel het drie-en-veertig jaar vir een maatskappy gewerk. Eers was daar meneer Walters senior. Dié is deesdae baie minder by die werk. Hy bly in sy aftreehuis, nogal hier naby Abel se skamele plekkie. Meneer Walters was goed. En klein Bert, sy seun, is ook goed. Hy het voor Abel grootgeword.

Op hom wat Abel is, kan ou meneer en Bert reken. Al word hy nou ouer, werk sal hy werk. Hy weet mos nie van pensioen en polisse en sulke dinge nie.

Bert het juis gister kom praat oor ’n nuwe projek. Sy pa wil nog ’n huis langs syne bou. Vir die familie. Ai, dié meneer Walters, altyd vol planne.

Eintlik het hulle saam grootgeword as plaaskinders. Nou nog wil meneer Walters niks daarvan weet om ge-“meneer” te word nie. Abel moet elke week kom koffie drink, dan praat hulle oor die dae op die plaas.

Bert praat ernstig: “Abel, jy word oud, hierdie sal jou laaste projek wees. Dis tyd vir ander dinge. Visvang en kuier met die kleinkinders.”

Wat is dit met Bert? Is hy wat Abel is dan nou nie meer goed genoeg nie? Hoe sal hy maak as hy nie meer kan werk nie? Hoe sal hy vir sy Miena kan sorg? Ja, die kinders is geleerd en kan seker help, maar nogtans, hy het nog nooit vir niemand niks gevra nie.

Abel is stil. Maar hy werk. As dit dan nou die laaste huis is wat hy sal bou, van sy werk sal hulle niks kan sê nie. En vir meneer Walters het hy nog nooit afskeepwerk gedoen nie. Hy wonder of hulle nog sal kuier as hy dan nou nie meer ’n werk het nie. Maar hy praat nie. Hy werk. En hy werk goed.

Sy hart is swaar toe die huis klaar is. Maar minstens weet hy hierdie huis sal bly praat. Praat van hoe Abel April nooit gebrou het nie.

Meneer Walters nooi hom darem vir ’n laaste koffie as ’n werknemer. Abel is hartseer. Dis dan nou seker tyd vir groet.

“Meneer Albert, ek gaan vir Meneer mis. Wanneer trek die familie in die nuwe huis in, Meneer? En het Meneer dan vir Miena laat kom om te help intrek? En watter familie is dit wat kom intrek?”

Daar is trane in Albert se oë as hy saam met Abel die nuwe huis instap. “Die huis is joune, Albert. Jy is mos familie.”

Koos van der Merwe, bekroonde liedjieskrywer, digter, predikant en solokunstenaar.