Soms is die storms nodig

Dis Augustus en in Gauteng waai die wind verwoed. Stofstorms net waar jy kyk.

Klagtes oor die wind en die stof is daar baie, maar tussen al die klagtes hoor ek iemand sê: “Ek hou van die wind, dit waai die Lente en die reën nader.”

Ek dink dis die waarheid, nie net vir die Natuur nie, maar ook vir ons lewens. Partykeer het ons nodig om deur die wind en storms te gaan, sodat daar verandering kan kom – ‘n nuwe seisoen kan begin. Gewis is geen storm op jou lewenspad ooit lekker nie, maar dit bring gewoonlik nuwe groei en persoonlike ontwikkeling. Selfs die ou digter en filosoof, CJ Langenhoven het jare terug al gesê: “Van die paaie wat ek gister gekom het, dink ek vandag met die meeste genot aan die swaar opdraande wat ek uitgesukkel het, en met die minste genot aan die maklike afdraande wat ek afgerol het.”

Dalk voel jy vandag of jy te midde van ‘n storm is waaruit jy geen uitkoms sien nie. Ek wil vir jou sê moenie moed opgee nie, nie op jouself nie, ook nie op God of die lewe in die algemeen nie. Jy moet aanhou glo en vertrou. Gaan lees weer die verhale van die geloofshelde in die Bybel. Onthou hoe Josef, met baie drome in sy hart, onskuldig as slaaf verkoop en later in die tronk beland het. Tog het hy nooit opgegee nie. Baie jare later het hy onderkoning van Egipte geword en kon hy, nie net sy familie nie, maar die hele volk en Egipte van hongersnood red!

Dink ook maar aan Dawid, Moses, Daniël, Job, Paulus, Petrus en vele ander. Nie een van hierdie mense se lewens was maanskyn en rose nie, maar hul almal het sterk in die geloof gebly. God het Sy hand oor elkeen van hulle gehou, net soos Hy ook vandag Sy hand oor jou hou. Klou vas. Hou moed. Onthou die winde en storms bring ‘n nuwe seisoen… ook vir jou.

Vorige artikelBegin elke oggend met Spreuke
Volgende artikelVerwagtings kelder dalk jou geluk
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.