Soms is die einde vir my die mooiste begin

1021

Samson het nie gebedel nie. Hy het niks gesê nie, net daar gestaan. Gedaan. In sy oë kon jy sien hy het by ’n einde gekom.

Die lang pad vanaf Malawi tot in die Tuinroete was ’n reis van hoop. Hoop vir ’n beter toekoms. Hoop dat sy gesin sou kon oorleef met die geld wat hy sou stuur. Hoop dat hy sou kon wegkom van die een metgesel wat sy hele lewe ongenooid net dáár was: armoede. Armoede wat jou laat wakker lê en wonder wat jou kinders môre gaan eet.

Hy kon net nie meer nie. Sy laaste geld was klaar. En sy laaste hoop. Onder die grote uitspansel het hy, verwese en verhonger, net gaan staan. Waar daar gister nog ’n laaste flikkering van hoop in sy oë was, was daar vandag net ’n stil, verslae aanvaarding en oorgawe.

Toe André hom sien, was dit soos ’n dolk in sy hart. Dit was asof hy in een mens die armoede kon sien van alle ander mense wat ooit te min gehad het. Hy het geweet hy sal vir die res van sy lewe met sy gewete moes saamleef as hy sou verbystap. Hoe sou hy vanaand kon bid? Hoe sou hy kon eet?

André het omgedraai, terug die huis in. Hy het toebroodjies en koffie gebring. Samson het niks gesê nie, maar die trane oor sy wange was die mooiste dankie.

Dit was toe tog ’n einde. Maar dit was ook ’n begin, vir albei mans. ’n Meer getroue werker het André nog nooit gehad nie.

Hy onthou daardie eerste week soos gister. Samson het gewerk soos ’n besetene, van donker tot donker. Hy was gedryf deur die vrees dat hy tog net nie die werk moes verloor nie. Gedryf deur die wete dat sy vrou en drie kindertjies êrens gewag het dat hulle broodwinner iets sou stuur.

Die eerste dag na hulle ontmoeting het André reeds geweet hy het iemand gekry so lojaal en betroubaar soos min. Hy het vir Samson ’n klompie take gegee om te sien hoe hy sou vaar as tuinwerker en nutsman.

Toe hy later by die huis kom, sien hy Samson met verskrikte oë, maar trots soos ’n krygsman. In sy gebroke Engels verduidelik Samson dat hy die huis moes beskerm teen ’n aanval van ’n massiewe slang.

“Maar Meneer moet nie bekommer nie, ek het hom in stukke gekap net toe hy uit die water wou klim om die honde aan te val. Die slang het in die swembad weggekruip en het net gewag tot Meneer ry toe hy begin uitklim,” stamel die verskrikte Samson.

En dan sien André die slagoffer van die dapper Samson. Die Kreepy Krauly lê aan flarde langs die swembad. Verslaan deur ’n Malawiese kryger!

Vandag, twintig jaar later, weet André sy huis is veilig. Daar is ’n kryger wat waghou. ’n Kryger wie se kinders kon gaan studeer. ’n Kryger sonder ’n beangste, honger kyk in sy oë.

Koos van der Merwe, bekroonde liedjieskrywer, digter, predikant en solokunstenaar.