“Soms praat ’n daad van liefde harder as woorde”

1925
Jaco Strydom
Jaco Strydom

Seerkry is soos ’n klomp boeke wat ’n mens opmekaarstapel. Die toring raak al hoër en hoër hoe meer jy oppak.

Dan, op ’n dag, vat dit net een boek om die hele ding te laat tuimel. Ironies genoeg, kan dit ’n klein, oënskynlik onbelangrike insident wees wat dit veroorsaak.

’n Meisie het by Echo in een van ons huise vir jong mense in nood ingetrek. Sy het uit baie moeilike omstandighede gekom en reeds vroeg in haar lewe baie seergekry. Die pak seerkry het saam met haar daar aangekom – haar lewe was op die rand van ’n afgrond.

Die groot ineenstorting het gekom die dag toe haar kêrel uitgemaak het. Dit was die laaste strooi, die laaste boek wat die hele toring laat omkantel het. Skielik het al die eensaamheid en hartseer op een slag op haar afgekom.

Sy was buite haarself. Blindelings het sy die strate in gehardloop, tot sy later nie meer geweet het waar sy was nie. Toe sy nie meer kon hardloop nie, het sy op ’n sypaadjie met haar kop in haar hande gaan sit en gewens die aarde wil haar insluk.

Iewers agter haar het ’n tuinhekkie oopgegaan. ’n Vreemde vroutjie het nadergestap en langs haar kom sit. Sy het eers met die kind probeer praat, maar daar was geen reaksie nie. Later het sy opgegee en die wyse ding gedoen om net daar te sit en haar vas te hou.

Die meisie vertel dat sy daardie dag haar hart op die vreemde tannie se skouer uitgehuil het.

“Ek het al baie gehoor hoe julle vir my sê die Here het my lief, maar ek kon dit nooit glo nie,” vertel sy my later. “Daardie dag kon ek dit voel. Ek kon voel Hy het my lief en nou glo ek dit!”

Daardie vrou sal waarskynlik nooit weet hoeveel haar bietjie moeite vir die kind beteken het nie.

’n Ander meisie het altyd gesê sy wil nooit eendag trou en haar eie gesin hê nie. Haar kinderdae in ’n gebroke huis vol konflik, leuens en drankmisbruik het gemaak dat sy eerder die risiko vir daardie tipe pyn wou vermy. Dit was vir haar onmoontlik om te glo dat ’n mens gelukkig getroud kan wees. Tot op ’n dag.

“Jaco, ek glo nou dis moontlik,” het sy half uitasem gesê. Toe ek haar uitvra, vertel sy dat sy die vreemdste ding gesien het. Iets wat haar weer laat glo het.

’n Oom en tannie het hande vasgehou terwyl hulle deur die strate gewandel het. Sy het hulle op ’n afstand fyn dopgehou. Die twee oumense was duidelik baie lief vir en passievol teenoor mekaar. In ’n stadium het hulle op ’n straathoek gestop. Die oom het iets in die tannie se oor gefluister en haar op die voorkop gesoen. Vir ’n paar sekondes het hulle net daar gestaan en vir mekaar gekyk.

Daardie beeld van die oompie en tannie op die straathoek was iets waarteen die meisie nie kon stry nie. “Ek het al baie gehoor hoe julle oor huwelike en gesinne praat,” het sy gesê. “Vandag het ek vir die eerste keer met my eie oë gesien dis moontlik om vir mekaar lief te bly.”

Daardie oom en tannie sal seker ook nooit weet watter impak hulle liefde vir mekaar daardie dag op ’n kind uit ’n gebroke gesin gemaak het nie.

Dit is dikwels die eenvoudigste dade van liefde wat deur die slimste teenargumente, die diepste seer, die leegste eensaamheid en die donkerste ongeloof kan breek. Dalk is juis dít die rede waarom Jesus volgens die Evangelieskrywers baie meer gepraat het oor hoe ons moet leef as oor hoe ons moet glo.

Ons leuse by Echo is: “Don’t tell them Jesus loves them ’till you’re ready to love them too.” Soms is dit ’n vreemde vrou op ’n sypaadjie of ’n oom en tannie wat hande vashou wat God se liefde sigbaar maak vir iemand wat sukkel om te glo.

Miskien is jy die een wat vandag iets kleins kan doen om iemand weer hoop te gee en te laat uitsien na môre.

Jaco Strydom is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.