“Soos hongerte oorheers, voer ons ’n stryd”

6028
Soos hongerte oorheers, voer ons ’n stryd

Boervrou Lana Krige van Klipplaat in die Oos– Kaap en haar gesin voer ’n oorlewingstryd weens die droogteramp van die afgelope vyf jaar. Sy getuig hoe hulle gesin van vyf leer om te vertrou, te luister en te glo dat elke gebed verhoor sal word.

Ek staan voor die voermenger en die trane stroom oor my wange. Trane van selfbejammering, maar ook seer vir my man. 

Dis hartverskeurend as jy sien hoe jou man swaarkry. Daar is tye wat ons mekaar moed inpraat, maar daar is dae wat daar nie meer woorde is nie. Net die Here kan help!

Dis pynlik om te sien hoe hy planne maak. Keer op keer, sonder opgee.

Daar is kos tot môre en dan niks. Daar is nie geld om meer te koop nie, want nie eens ons petrolkaart werk meer nie. ’n Magtelose hartstryd word gevoer, want my kinders is drie uur weg op skool en klein Lilly wil nog elke naweek haar mamma en pappa sien.

Wat nog te sê van ’n familiebederf om saam uit te eet of nuwe klere vir die kinders te koop.

Dit is die einde van die 15de jaar van ondergemiddelde reën en ook die einde van ’n amptelike vyfde jaar van droogte.

Ek stap langpad om huis toe om my rooi gehuilde oë kans te gee om beter te lyk. Die bekommernis moet onder ’n bietjie hoop weggesteek word.

Die nuus wat Justin, my man, daai dag gedeel het, was totaal onverwags: Mielies was op pad, gratis en verniet.

Vir ’n oomblik verdwyn alle mismoedigheid. Jy voel weer soos jou ou self. Hierdie was die begin van ’n paar wonderwerke!

Die tydsberekening van die aflewerings is ’n getuienis op sy eie.

In daardie tyd was al die reserwes reeds op. Nie net die plaas se reserwes, soos die saadbeddens, nie, maar finansieel was daar niks oor nie. Daar was ook niks om te verkoop nie, want die ooie het nie gevat nie.

Elke keer as daar nuus is van ’n voerlorrie wat op pad is, skep ’n mens moed. Die eerste keer wat die voerlorrie opgedaag het, het soos die grootste wonderwerk gevoel.

Burre Burger van Droogtehulp is ’n held vir soveel boere. Hy het ná ’n tragiese voorval in sy eie lewe ’n doelbewuste besluit gemaak om aktief te help. Hy het nie net gepraat, beloftes gemaak of betogings gehou nie, maar hy het gedoen! Hy het die daad by die woord gevoeg en dit is wat hom van soveel ander aktiviste onderskei.

Dit bring weer uitkoms vir ’n week of twee.

Jy weet jy moet vertrou. Jy het al gesien hoe die Here voorheen ingryp. Tog is dit daardie vrees van “wat as dit nie gebeur nie?” Hierdie vrees is die afgelope paar jaar ’n werklikheid.

Jy kyk na die boeke van die plaas en sien jy kan nie eens belasting betaal nie. Die plaaswerkers moet betaal word, maar daar is niks. Jy voel skuldig oor iets waaroor jy nie beheer het nie.

Die spanning in Justin se oë is angswekkend. Sy skouers hang. Jy weet hy slaap niks.

Daar was nog nie geld om die plaasbakkie reg te maak nie. Daar is ook ’n moontlike kwaadaardige plekkie op sy gesig. Ek wens hy kan net dokter toe gaan, maar die bietjie geld moet liewers gebruik word om vir die diere kos te koop.

Sulke besluite is moeilik, maar my man beheer die vloei van die Here se liefde in ons gesin. Hy is sterk, hy groei, hy hou nie op met planne maak nie.

Hy wil ook seker soms net op ’n hoop sit en skree: “Waarom, hoekom reën dit nie?” Maar hy doen dit nie.

Die swaarkrytyd het nie ons familie se geluk beïnvloed nie. Deur alles voel die kinders beskermd en geliefd. Dit wys net dat ons basiese behoefte tog eintlik net liefde is.

Die kinders is deeglik bewus daarvan dat dit uitdagende tye is. Maar hulle klou ook aan die hoop vas.

Raadop begin jy om planne uit te dink om die kinders na ander skole te skuif. Hulle skoolfonds is reeds agterstallig, maar deur die genade het elke skool ’n plan gemaak om te help … al gaan dit jare neem om af te betaal. 

Ag, en dan is daar ander se opinies as jy die dag net jou gras ’n bietjie water gee. Die gemompel agteraf van ander maak ’n mens briesend. Eintlik is dit net om jou eie hart met hoop te besproei. Niemand sal dit verstaan nie.

Die tuin is lank voor ons aangelê. Dit is jare en geslagte se bome en struike wat doodgaan. Dit is tragies om te sien hoe die versiering om die huis stuk vir stuk vrek. Jou uitsig van groei en nuwe lewe raak bruin.

Sulke kommentaar vang jou. Mense begryp dit nie en maak snap judgements. Daardie ou bietjie groen, laat jou net weer droom oor wat moontlik kan gebeur …

Jy stap op doodlooppaaie en vra hardop: “Gaan dit ooit weer reën, gaan dit ooit weer groen wees?”

Kontant kom nie altyd soos jy dink of bid nie. Maar die Here is altyd aan die werk. Die wonderwerke gebeur op ’n ander manier. Soos die nuwe besigheidsinisiatief van ’n ander boer wat gekom het om te help. Dit is soos ’n fontein wat in ’n droë veld ontspring.

Dis genade en die goedheid van die mensdom wat saamstaan, laat jou in verwondering.

Jy staan verslae-stom as daar uit die bloute ’n engel jou koskaste kom vol maak. En daarmee saam kom woorde van bemoediging, wat jou weer ’n hupstoot gee.

Almal voel vir ander wat swaarkry, maar wie doen regtig iets daaraan? Almal sê ons voel jammer vir die boere, maar hulle doen niks meer as praat nie.

Burre het sy lewe opgeoffer. Hy is ook ’n pappa met klein dogtertjies en verantwoordelikhede by die huis, nes ander gesinne. Dit is moeilik vir sy vrou, want hy is permanent op die pad om ander se nood te verlig of fondse te werf.

Hierdie man het sy nek vir ons almal uitgesteek. Hy lê homself neer vir ander. Hy het ’n hart nes sy Hemelse Pa. Hy sal sy hemp van sy lyf aftrek en vir iemand anders gee. Hy volg so in die voetspore van sy ouers. ’n Seun wat ons almal trots maak.

Deesdae ervaar ek ’n diep gevoel van dankbaarheid. Daar is mense rondom ons, wat so goed is vir ons in die situasie.

Dis mooi om te sien hoe my man die Here se hart in elke dag se vrae soek. Hy groei geestelik. En dit is tog ’n begeerte van Vader dat ons sal leer om Hom meer te vertrou.

Die Here neem ons nie om dit of oor dat nie, maar deur dit. 

Om oor die toekoms te dink versmoor jou. Spaargeld vir ons oudag en die kinders se studies is weg, kredietkaartlimiete en overdraft-limiete is bereik. Polisse en versekering is gekanselleer.

Die hele droogte is ’n groot leerskool. ’n Skool waar jy leer vertrou. Al is dit net vir vandag. Soms dink ek ons het nou al genoeg geleer …

Maar die mooiste is hoe dit alles ons huwelik en gesinsband versterk. Daar is hernude vreugde in ons familie. Vreugde wat nie deur dinge geskep is nie, maar deur te sien hoe die Here beweeg.

Dis moeilik, maar dis nog nie die einde nie.

So what, as ons nie met vakansie kan gaan nie. Die plaas is hier om te bly en so ook ons Vader se goedheid