Sorina Erasmus: “Agter die masker van Die Flooze is ’n gewone ma”

336
Sorina Erasmus

Die Flooze, SORINA ERASMUS, glo dié persona bring meer hoop aan mense as wat sy ooit in haar  alledaagse lewe as ma en eggenoot kan.

Dit bly die moeilikste deel: as Die Flooze grappies moet vertel terwyl hierdie moederhart in stukke breek.

Die Flooze besoek gereeld siek kinders, maar nou die dag was weer vir haar swaar. Ek moes ’n groot Flooze fan in die hospitaal gaan besoek. Die seuntjie was in erge pyn.

As ’n ma breek dit my hart. Jy móét net sterk wees. Sulke tye wil jy die ma van die kindjie vasdruk. Haar vriendin wees in die oomblik. Al weet ek nie hoe hulle voel nie, kan ’n mens jou indink.

Die emosie van seer verander dan stadig in ’n begeerte om te help. Jy wil die oomblik beter maak en nou is die kans! Die Flooze kom dan in haar volheid en oortreffende trap uit om die tjommie op te beur! Dan moet die emosies by die deur gelos word, want die kindjie wil net lag en geliefd voel.

Wat as dit ons kinders was? Dis moeilik om te dink dat jy nie permanente verligting vir die tjommies kan bring nie, maar die geleentheid om iets in die oomblik te doen, is daar…

Vanuit my skoene as ma is dit aaklig om ander ouers te sien swaarkry. As ’n kunstenaar bly dit ’n voorreg om iets vir iemand anders te beteken, wat hulle in die toekoms sterker kan maak. Dit kon netsowel ons gewees het!

Vandag kyk ek terug na die geboorte van ons eersteling, wat so byna met ’n teleurstelling begin het. Die bohaai daardie tyd was sommer simpel! Maar ons is net mens…

Soos talle ander ma’s wat vir die eerste keer geboorte gee, het ek ook ’n prentjie gehad oor hoe dinge daardie dag moet verloop. Ons hoop was op daardie ideale prentjie en niks minder nie.

Die voorbereiding was vir ’n normale bevalling. Elke dag as klein Braam geskop het, het die droom van hoe hy gaan lyk net meer gegroei.

Al die boublokke in jou brein was rondom ’n normale geboorte gebou. Die verwagting was groot! Tydens die laaste besoek aan die ginekoloog hoor ons dat Braam “brug gedraai het”. Ons was ’n bietjie onkant gevang, maar ons was getroos om nie te stres nie – daar was nog genoeg tyd vir hom om weer te draai.

Ons het by elke fyn voorskrif gehou om alles menslik moontlik te doen sodat Braam met ’n normale geboorte die wêreld kon inkom. Die fokus was net op een ding, maar na nog ’n besoek aan die ginekoloog was die kanse uiters skraal.

Die nuus was dat daar vir my geen keuse gaan wees as om ’n keisersnee te laat doen nie.

Al die vrese van “eerste ouerskap” het hier binne my opgekom. Dit was ’n groot teleurstelling, so op die drumpel van soveel opwinding. Vir ’n eerste mamma was dit trane van hartseer. Die hele prentjie het uitmekaar geval.

Tog was daar nog ’n paar weke oor om vrede te maak oor die saak. En ja, natuurlik was die gesondheid van ons babatjie die heel belangrikste. ’n Gesonde baba was tog deel van ons gebede.

Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees in ’n onvoorsiene situasie. Gelukkig was tyd nog aan ons kant. Die vrede het elke vrees kom oorheers. Selfs die vrees vir die naalde en spelde.

Die Here het geweet wat die beste uitweg gaan wees sonder komplikasies. So, met die tweede kind, ons dogtertjie, was ’n keiser ook aangewys.

In sulke tye moet jy net breathe en believe.

Vandag sien ek daardie voorval as totaal onkundig en arrogant, veral as ’n mens by die siekbed van ander kinders staan. Daardie bondeltjie vreugde is oorgenoeg! En tog, deur die reis van kinders grootmaak, aanvaar jy gesondheid as vanselfsprekend. Lekker, kom ons bou net voort op eie geluk.

Néé! Dan kom jy voor die siekbed te staan van goeie vriende se seuntjie (5), wat aggressiewe kanker het en jou hart maak ’n draai. Hierdie outjie was ook blakend gesond op sy geboortedag. As hartsmense seerkry, kry ’n mens se eie hart saam met hulle seer.

Vandag is ’n gesonde kind net genade. Dit is iets wat ons so naby aan die hart lê. Veral as hy sy jong dae kan deurmaak sonder enige pyn en lyding. Nou word daar elke dag vir die kinders se gesondheid gebid.

Daardie tyd met die gelukwensing van Braambossie se geboorte het ’n goeie vriendin ’n reusebos blomme gebring met ’n nog groter boodskap: Welkom by die klub van skuldgevoelens. Die verstaan van dié woorde was nog min, maar met tyd het dit sin gemaak.

Dié woorde gee my nou hoendervleis, want dit is elke ma se stryd! Jy voel skuldig oor alles. Selfs vyf minute se tyd wat jy minder met hulle deurbring of die “nee” vir nog ’n lekkertjie ontaard in ’n skuldgevoel. Ai, en dan kyk daardie kosbare ogies so vir jou. Dis so moeilik!

Selfs al gee jy 700% van jou wese, sal jy voel: “Shucks, ek moes 710% van myself gegee het.” Kon jy nie beter nie?

Hierdie voete staan tussen ’n werkende en ’n tuisblyma. Albei moet voltyds werkend bly. Tussendeur moet liedjies en vertonings geskep word. Die getal ure wat ingesit word, bepaal ons inkomste aan die einde van die dag. Albei rolle bring skuldgevoelens, veral as jy begeer om net ’n middagslapie te neem of alleen te bad.

Maar dis reg so, ’n mens is normaal! Daar is ’n element van mooi daarin, want ons omgee oor ons kinders strek so wyd. Deur alles leer jy dat “elkeen se beste verskil, jy is jou kind se plan A-mamma”.

Hierdie eenvoud dra vanjaar groot krag. Ook om net mindful te wees oor wat jy in die oomblik doen, van gesond eet tot ma-wees.

Maar dis menslik, al word daar gedruk om soos ’n masjien te funksioneer. Sjokolade word hier ook geëet en dan dink jy jou hele dieet is nou daarmee heen. Dit is nie waar nie! Eintlik was dit net ’n pouse en nie die einde van die gewigstryd nie.

Nog ’n vriendin sê altyd: “Gee jou kind twee keer soveel liefde en die helfte soveel goeters.” Al kry hulle ’n tantrum oor die draairoomys. Liefde is eintlik al wat hulle soek.

As die moeilike dae kom, moet jy net daar weer ’n kopskuif maak. Ek sukkel ook om perspektief te behou party dae. Maar jy moet laat gaan…

Die feit dat ons aanmekaar geweef is deur emosie, is nie ’n lelike ding nie. En al kom die skuldgevoelens, is dit nie omdat ’n mens iets verkeerds gedoen het nie.

Is Sorina te streng met haarself? Altyd! Die vrees om foute te maak is altyd daar. Veral as ’n mens ongeduldig raak met die kinders en oorkook. Soos as Miana (3) ’n tantrum kry en soos ’n menslike mop daar op die vloer beweeg, dan kom daar sommer nog skuldgevoelens by.

Maar dit help om jou geliefde so naby te hê. Ek en Braam pak alles saam aan. Hy is altyd naby. Hy is ’n briljante pappa. Hy gee sy alles vir sy kinders.

Die fondament van ons snoesige huisie is gebou op ons geloof in God. Dit is al hoe dit kán werk! Selfs as ons twee foute maak of mekaar seermaak. Of as die een ’n fout begaan met ouerskap, is die fondament op ’n rots gebou.

Soms word die golwe van die lewe groot, maar God is standvastig, al is die lewe nie. Dit maak hierdie prentjie perfek!

Ons is eenders en anders. Hy is meer logies en hier binne is ’n hart vol emosie. Daar is êrens in die middel balans wat help dat ons altyd oop is om by mekaar te leer.

In die huwelik moes respek geleer word. Braam is ’n bol wysheid en kennis. Hy is ’n entrepreneur en besigheidsman. Party dae staan ek in ontsag oor hom, want hierdie kreatiewe brein dink totaal anders. Maar hy sien tot die potensiaal in ’n gekoude Chappie! Hy sal ’n manier vind om dit te herverpak, te verkoop en boonop nog ’n reusesukses daarvan te maak.

Met elke projek maak sy insig sin. Dit is so spesiaal om saam met hom in ’n werkspan te kan wees, omdat dit soos twee verskillende afdelings voel wat mekaar aanvul. Maar die spanpoging het tyd geneem. Aan die begin was daar ook ’n bietjie modder getrap om mekaar te vind.

Om aan te neem die ander persoon moet iets vanselfsprekend weet, is onmoontlik. Deeglike kommunikasie het ons gehelp om mekaar te vind – in die besigheidswêreld en as geliefdes.

Ons eerste date was ná ’n Nataniël-konsert. En dit nog voordat hy my liefde vir die kunste geken het. Vandag, ná elf jaar, is die masjien al meer geolie met diep vertroue in mekaar. Op die verhoog is dit Sorina of Die Flooze se beurt. En af van die verhoog af is dit sy reëlings.

’n Geheim wat niemand weet nie, is dat die besigheidsman al heelwat van die komedie en kopie vir Die Flooze saamgestel het. Hy het ook al liedjies geskryf. Dan kry die einste die lof. Néé, hy is goed! Hy verdien ook die eer.

Deur die jare is dit nodig om aanhoudend vir mekaar waardering te wys. Ten spyte van ons albei se foute, wys hy altyd sy dankbaarheid. Die stukkie waardering vir mekaar kan maklik verlore gaan in ’n wêreld van doenlysies.

As mense is ons geneig om liewer mekaar se foute uit te wys, in plaas van die ander een se mooie te sien.

Dit beteken nie dat Braam se foute uitgebuit mag word nie. Maar nie een van ons twee is volmaak nie. Soms word daar gegee en ander tye geneem. Dit het tyd geneem om ’n balans te vind.

Ook om ’n balans te vind tussen Sorina en Die Flooze.

Alles in my lewe is tweeledig. Ek het regte en drama gestudeer. Nee, dis nie ’n grap nie, dis totaal twee uiterstes! In hierdie loopbaan is ek ’n sangeres en ook ’n komiese karakter wat uit die boks is.

Die verhoogkarakter, Die Flooze, is ’n totale ekstrovert, maar Sorina is eintlik ’n bietjie menssku. Die Flooze het my geleer om meer buite die boks te wees, maar naby mense weet ek is eintlik ’n introvert. Die een CD, Hoofletters, is sielskos en inspirasiemusiek. Dit wys die dieper Sorina en nie die lawwe, lekker, voelgoed Flooze nie.

Solank as wat God die deur oophou om Die Flooze as ’n karakter te gebruik om ander te bemoedig, so lank sal sy aanhou. Ten spyte van die komedie en die common-wees laat sy mense lag en bring sy hoop vir kinders.

Partykeer wens ek mense kan sien wat Die Flooze regkry wat Sorina nooit sal kan doen nie. Sy het ’n manier om na mense deur te breek, omdat sy sonder pretensie is. Sy is sonder klas, sy’s net happy-go-lucky.

Hierdie is dieselfde konsep wat ek ook aan die kinders wil oordra. Ek weet nie hoe Braambossie (5) gaan wees op skool nie. Dalk is hy die sportster, of dalk is hy die slypertjie. Maar as jy jou kinders toegooi met liefde en hulle selfvertroue opbou, is dit genoeg! Hy hoef nie dan die beste rugbyspeler te wees nie. Net solank die kinders gelukkig is met wie en wat hulle is.

En hierdie persona inspireer my ook. Sy maak ’n mens vry. Sy laat mense voel dit is oukei om net jouself te wees. Jy gaan altyd mense kry wat van jou hou of nie van jou hou nie. En wat daarvan as mense sê jy is goedkoop? Wat maak dit saak as jy nie die mooiste, rykste of slimste is nie, tjommie? Solank jy gelukkig is!

Met elke vertoning kom Sorina en Die Flooze na vore. En elke keer, of dit nou ’n stywe damesoggend of ’n ma-en-dogter-dag is, kom daar iemand om jou te bedank. “Dankie, Flooze, ek wil ook soos jy wees, want ek kan ook nie hardloop nie.”

Dit gebeur met elke vertoning. Ek wil sommer sit en huil oor dié feit. Dan raak hierdie hart vol.