Sosaties met kerriesous

1310

BESTANDDELE

100 ml melk
sout en peper na smaak
3 ml fyn gemmer
20 ml fyn koljander
2 lourierblare
1 knoffelhuisie, gekneus
1 kg lamsboud, in blokkies gesny

KERRIESOUS
2 middelslag-uie, gekap
60 ml botter of margarien
15 ml kerriepoeier
10 ml borrie
5 ml mosterd
2 ml rooipeper
3 ml komynsaad, fyngemaak (opsioneel)
500 ml bruinasyn
200 ml water
15 ml appelkooskonfyt
10 ml Worcestershiresous

METODE

1 Meng die melk, sout, peper en speserye, lourierblare en knoffel. Plaas die vleis in ’n houer en giet die marinade oor. Bedek met kleefplastiek en laat oornag in die yskas marineer.
2 KERRIESOUS: Braai die uie in die botter of margarien tot sag.
3 Voeg die kerriepoeier, borrie, mosterd, rooipeper en komyn by en braai liggies.
4 Voeg die asyn, water, konfyt en Worcestershiresous by en laat prut 5 minute lank.
5 Meng die mielieblom met ’n bietjie water tot glad en roer dit by die sous. Laat dit nog 3 minute lank prut en laat dan afkoel.
6 Gooi die afgekoelde sous oor die vleisblokkies. Bedek met kleefplastiek en marineer twee dae lank in die yskas..
7 Ryg die vleis op sosatiestokkies en braai oor kole of onder die oondrooster. Bedruip gereeld met die orige sous.