Sosiale media: Vriend of vyand vir jou loopbaan?

342
Mickey Roothman
Mickey Roothman

Sosiale media is waar ons gemaklik voel om vrylik ons gedagtes uit te spreek en onsself te wees. Jy praat hier mos met jou “vriende”, mense wat jy “ken”.

Al is jou persoonlike profiel ook hóé privaat gestel, is daar steeds maniere waarop voornemende kliënte of werkgewers dinge kan uitvind wat jy nie noodwendig met hulle sou wou deel nie. Het jy jouself al gaan Google? Jy mag dalk skrik as jy sien hoeveel webwerwe en toepassings jou foto’s deurtrek na dié soekenjin toe. Van jou vriende se profiele is ook nie altyd privaat gestel nie, dan kan foto’s waarin hulle jou “tag”, vrylik beskikbaar wees.

Benader sosiale media altyd as deel van jou beeld en jou CV. Al wys dit slegs hoogtepunte en gedeeltes van jou lewe, vorm mense persepsies oor jou op grond daarvan. Jy weet nooit wie Google jou naam as deel van hulle navorsing nie.

Wees versigtig as jy jou op sosiale media uitlaat oor openbare figure, gebeurtenisse of handelsmerke. Groepe is nie altyd privaat nie, en plasings en kommentaar is dikwels vir buitestanders sigbaar. Daardie groep of individu wat jy vandag uitsonder, mag dalk die volgende besluitnemer wees oor ’n aangeleentheid wat vir jou loopbaan – of ’n familielid s’n – belangrik is.

As jy kwaad of ontsteld is, skryf neer wat jy wil plaas en wag ’n halfuur. Kyk dan weer daarna en besluit of jy dit steeds wil plaas. Vra jouself: “Sal ek wil hê dat ’n voornemende kliënt of werkgewer hierdie plasing moet sien?”

Mickey Roothman, Besigheidstransformasie-afrigter