Spaar slim met lojaliteitskaarte

0
430
spaar_geld.jpg

Lojaliteitsprogramme is ’n nuttige manier om jou rande te rek. Hier is ’n paar van die topkeuses.

In die meeste gevalle is dit gratis om by ’n lojaliteitsprogram aan te sluit en as jy eers geregistreer het, is dit baie gerieflik.

1. Die slim keuse onder al die supermarkte

Pick ’n Pay se Smart Shopper Card is een van die beste lojaliteitsprogramme om aan te behoort. Jy kan kies of jy deel van jou aankope wil terugkry om by Pick ’n Pay te spandeer of jy kan jou punte aan een van ’n lys liefdadigheidsorganisasies skenk.

HOE OM TE REGISTREER: Al wat jy moet doen, is om die vorm in te vul met al jou besonderhede. Registrasie is verniet.
HOE WERK DIE PUNTE: Jy kry een punt vir elke rand wat jy spandeer en jy kry een rand terug per honderd punte. Jy moet ’n minimum van 500 punte hê voor jy dit in krediet kan omskakel. Om jou punte om te skakel kan jy na die masjien in die winkel gaan.
VERGELYK MET: Spar het onlangs ’n soortgelyke program ontwikkel, Sparbucks, maar dit word nog net by twee takke getoets. Die puntetoewysing is presies dieselfde. Jy moet egter ’n minimum van 10 000 punte hê voor jy dit kan omskakel.

2. ’n Gevestigde program vir skoonheid en gesondheid

Die krag van Clicks se program lê in die feit dat jy die kaart by meer as een winkel kan gebruik. Jou Clubcard kan by enige Clickswinkel of -¬apteek gebruik word, en ook by Musica, NuMetro, Spec-Savers, NetFlorist, Sorbet, Avis en City Lodge.

HOE OM TE REGISTREER: Jy kan weereens in enige winkel registreer en dit kos jou niks. Jou plastiekkaart word vir jou gepos. Jy kry wel intussen ’n tydelike papierkaart om solank mee te koop.
HOE WERK DIE PUNTE: Jy verdien een punt vir elke R5 wat jy spandeer wanneer jy ’n minimum van R10 spandeer. Krediet kom in die vorm van Clicks-koeponne. Om ’n koepon van R10 te kry, moet jy honderd punte in ’n tydperk van drie maande opbou. Daar is ook spesiale aanbiedinge vir kaarthouers, soos drie-vir-die-prys-van-twee-aanbiedinge.
VERGELYK MET:  Dis-Chem se puntestelsel is identies, maar die kaart is net geldig by Dis-Chem-winkels.

3. Verdien punte by ’n wye verskeidenheid winkels

Die Edgars Thank U-kaart is onlangs bekendgestel. Jy kan die kaart by enige winkel in die Edcon-groep gebruik, soos Edgars, Red Square, CNA en Boardmans.

HOE OM TE REGISTREER: Dié een is ook verniet. Jy kan jou kaart kry as jy in die winkel registreer. As jy ’n rekeninghouer is, kan jy net jou kaart omruil vir ’n Thank U-kaart. Jy kan daarmee op jou rekening koop ook.
HOE WERK DIE PUNTE: Jy kry 10 punte vir elke rand wat jy spandeer. Jy benodig ’n minimum van 10 000 punte om krediet te kry vir jou aankope. Vir 10 000 punte kry jy R10 terug.
VERGELYK MET:  Woolworths se Wrewards-program werk nie op punte nie. In plaas daarvan word afslag dadelik getoon wanneer jy jou kaart gebruik. Jy kry 10% afslag op sekere produkte in die supermark en 20% afslag op klere, skoonheidsprodukte en huisware.

4. ’n Nuwe geldeenheid om te spandeer soos jy wil

ENB se eBucks is een van die bekendste programme juis omdat dit so ’n groot aantal vennote insluit, soos Checkers, Makro, McDonalds, Look & Listen, Incredible Connection en nog vele meer. Daar is ook verskeie aanlyn vennote, soos Kalahari.com.

HOE OM TE REGISTREER: Jy moet eerstens ’n ENB-rekening hê; daarna kan jy vir eBucks registreer.
HOE WERK DIE PUNTE: ’n Persentasie van wat jy by enige van die vennote spandeer, word in eBucks omgesit. Die persentasie hang af van die tipe rekening wat jy by die bank het. Honderd eBucks is R10 werd en jy kan dit by enige van die winkels spandeer wat deel is van die program. Jy kan selfs petrol in jou motor gooi.
VERGELYK MET:  Discovery Health is soortgelyk, maar dit fokus op ’n gesonde leefstyl. Jy kry punte as jy by ’n gimnasium aansluit of produkte koop wat goed is vir jou gesondheid. Jy moet ’n Discovery mediese fonds hê om te kwalifiseer.

Dink mooi of jy gereeld genoeg by ’n winkel koop voor jy vir hulle program registreer, anders gaan die kaart net plek in jou beursie in beslag neem.

Lees meer: Sit agteroor en word maklik ryk