Spandeer genoeg tyd met jou dogter

0
433
ma_en_dogter.jpg

Die grootste geskenk wat jy jou dogter kan gee, is om vir haar tyd te maak. Dís hoe jy dit doen.

Wat sien sy wanneer sy na jou kyk?

Linda het eendag in haar sewejarige dogtertjie se tas gekrap, op soek na haar kosblik. Sy het op ’n blaai afgekom waarop Leané spelwoorde neergeskryf het. Linda was in haar skik toe sy sien haar dogter het volpunte gekry vir haar sinne. Maar toe sy dit begin lees, het sy tot ander insigte gekom.

Besig: “My ma is altyd baie besig.”
Tyd: “My ma het nooit tyd vir enigiets nie.”
Haastig: “My ma is altyd haastig.”
Speel: “My ma het altyd saam met my pop gespeel.”

Linda se hart het geruk. Sy het twee dinge besef: Vir Leané het sy die wêreld beteken. Elke enkele sin wat haar dogter geskryf het, het om haar gedraai. Haar dogter het haar dopgehou en wou graag soos sy wees. Aan die ander kant het Linda besef sy is nie die ma wat sy behoort te wees nie. Vir Leané was sy ’n besige mens. Iemand wat vir niks tyd gehad het nie. Iemand wat deur die lewe gejaag het en nie tyd saam met haar dogter deurgebring het nie.

Fokus op dit wat regtig belangrik is

Linda het daar en dan ’n paar veranderinge aangebring. Dalk is dit tyd dat jy dit ook doen. Wat wil jy graag vir jou dogter leer? Wat wys jou lewe vir haar? Jy het net ’n sekere hoeveelheid tyd om jou dogter op ’n positiewe manier te beïnvloed. Om vir haar te wys dat sy belangrik is en dat jy haar liefhet.

In Psalm 90:12 staan daar: Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom! Begin onmiddellik jou dae “tel”. Fokus op die dinge wat belangrik is, waarvan jou dogter een is. Hou op jaag, gryp elke dag aan en maak tyd vir haar. Wees betrokke by haar lewe. Dit hou baie meer voordele in as om besig te wees met werk, vriendinne, huisskoonmaak of selfs liefdadigheidswerk. Deel eerste jou tyd in jou eie huis uit.

Jou tyd is vir haar 'n kosbare geskenk

Ongeag jou dogter se ouderdom, verdien sy die geskenk van jou tyd. As sy klein is, wil sy graag hê jy moet saam met haar speel. Namate sy ouer word, wil sy hê julle moet saam winkels toe gaan. As sy uit die huis is en haar eie gesin het, sal sy dit waardeer as jy bel om te hoor hoe dit gaan. Jou tyd sal altyd vir haar belangrik wees. En dit is nooit te vroeg, of te laat, om dit vir haar te begin gee nie.

Deur vir haar jou tyd te gee, leer sy drie belangrike dinge: dat sy prioriteit in jou lewe is; hoe sy ander in haar lewe kan prioritiseer; en hoe sy die lewe kan geniet sonder om daardeur te jaag.

Waar kry jy die tyd om saam met jou dogter deur te bring? Die lewe is tog so besig. Tyd is skaars en kan nêrens gekoop word nie. Maar ons moet tyd máák vir dit wat vir ons belangrik is. Kry daarom ’n paar praktiese maniere om dit te doen.

Gee só vir haar jou tyd

1. Soek na geleenthede om iets spesiaals saam met jou dogter te doen. Maak spesiale afsprake elke week. Woon jou dogter se buitemuurse aktiwiteite by eerder as om haar eers laatmiddag te gaan oplaai. As jou dogter ouer is of dalk al uit die huis is, koop byvoorbeeld kaartjies vir ’n konsert waarna julle kan gaan kyk.
2. Luister na wat vir haar belangrik is; leer ken haar hart. Praat sy dikwels oor iets spesifieks? Dan maak dit vir haar saak. Vra vrae daaroor, wys jy stel belang, en wees versigtig om nie te gou jou opinie daaroor te lug of te kritiseer nie.
3. Vergeet van jou selfoon! Sit dit af wanneer julle by mekaar is. ’n Ma vertel van die keer toe sy besef het hoe seer sy haar dogter gemaak het. Die jongmeisie het oor haar liefdesteleurstelling gepraat toe die foon lui. Die ma het die foon geantwoord. Toe sy die uitdrukking op haar dogter se gesig sien, het sy besef hoe verstoot sy voel. Dit het op daardie oomblik gelyk of die persoon aan die ander kant vir die ma belangriker was as sy.

Vertaal en verwerk uit When a Mom Inspires Her Daughter van Cindi McMenamin.