Spanning op die werf

0
35
hoofstuk3.jpg

Die lewe vlieg soos ’n droom verby. Moenie dat uiterlike dinge staan tussen jou en diegene wat vir jou dierbaar is nie.

Doen jou huislike take vir dié wat jy liefhet met al die sorg waarmee jy kan. Doen dit asof vir God, dan word jou huis ook Syne.

Te midde van die alledaagse lewe van huishoudelike pligte, werksverpligtinge, kinderkonserte, ryklubs, gimnasium, sosiale geleenthede en familie, smag ons eintlik almal na die aanraking van iets heiligs, iets anderkant die daaglikse bestaan, iets dramaties wat ons daaraan kan herinner dat daar eenmaal op aarde ’n tuin was waar die mens God langs elke boom of struik kon verwag.

Die sleur kan tog nie al wees wat daar aan die lewe is nie? vra ons ons af. God het tog seker iets beters vir ons bestem. Daar móét iets reiners, iets meer verhewe wees as skottelgoed was, huis skoonmaak en kos kook.

Ons is só besig om die bal aan die rol te hou dat ons vergeet om te dink oor dinge wat saak maak. Ons is so besig met hierdie lewe dat ons innerlike lewe en die mense die naaste aan ons skade ly.

Máár, daar is meer aan die lewe as ’n silwerskoon huis en lekker kos. Gaan sit nou onmiddellik op ’n stoel, los die wasgoed vir ’n oomblik en lees hierdie stukkie:

Al sou ek in ’n huis woon wat silwerskoon is met alles op sy plek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n huishoudster geword en geen tuisteskepper nie.

En al sou ek al my tyd bestee aan was en poleer, en allerhande binnenshuise skeppings, maar ek het nie die liefde nie, dan leer my kinders slegs van skoonheid in plaas van goddelikheid.

Die liefde vergeet van die stof op soek na die lag van ’n kind.

Die liefde glimlag oor die klein vingerafdrukkies op ’n pas gewaste venster.

Die liefde vee die trane af voordat dit die speelgoed optel.

Die liefde is daar deur al die trane heen.

Die liefde voed op, stel foute reg en is betrokke.

Die liefde kruip saam met die baba, loop saam met die kleuter, hardloop saam met die kind, en staan opsy vir die jongmens om ongehinderd die drumpel van volwassenheid te betree.

Die liefde is die sleutel wat die boodskap van verlossing aan die kind se hart ontsluit.

Toe jy nog nie ’n moeder was nie, was jou huis jou grootste bron van vreugde. Nou vind jou vreugde in die volmaakte gawe van God. ’n Kind.

As ’n moeder is daar soveel om jou kind te leer, maar die grootste is die liefde! (Anoniem)

Hierdie is nie ’n beskuldiging nie, net ’n vriendelike herinnering dat die siel meer is as die liggaam en die hart van die mens belangriker as die stoflike dinge. Geniet jou huis, geniet jou tuin, maar onthou altyd: ’n tuiste gaan oor die mense wat daarin woon – en die lewe is meer as net jou huis!

Christene het egter meer as blote oorlewingstegnieke nodig. In hierdie smagting na die buitengewone ontmoeting met God kyk ons soms dit wat heilig is in ons alledaagse bestaan heeltemal mis. Die digter Sheila Cussons ontdek dié waarheid in haar gedig Klein Ballade. In dié gedig soek die vrou na die huis van Maria en Josef. Eers begewe haar moed haar, dan draai sy terug na die aangewese huis en kom agter dat dit haar eie huis is:

Toe draai ek om en vind verstom

ek het voor my eie deur gekom:

My huis is Hare, my huis is Syne!

Daar is iets meer, sê God: om die alledaagse in die heilige te omskep deur dit met ander oë te sien. ’n Persoonlike ervaring van Jesus en die evangelie is noodsaaklik. Daar moet vir ons ’n manier wees om alledaagse gebeure in verband te bring met wat Jesus bied. En dít kan ons alleen doen deur tyd in te ruim om na te dink. Die evangelie moet vlees word in ons daaglikse roetine.

In plaas daarvan om te wroeg oor wat jy nagelaat het om te doen, skryf neer in watter mate jy dit reggekry het om die doel wat God vir jou gehad het, te volbring. God se plan vir jou dag vereis gewoonlik klein dingetjies, soos om te glimlag, jou kind raak te sien of iemand beter te laat voel.Hennie Symington

Die warmte van ’n huis word nie noodwendig deur die verhittingstelsel bepaal nie …

~ Onbekend ~